Bedrywige Juliemaand vir Thabazimbi VLU dames
THABAZIMBI – Die dames van die plaaslike tak was gedurende Juliemaand baie bedrywig. Tydens hulle vergadering op 12 Julie is daar behoorlik fees gevier. Marietjie van der Merwe, ‘n vorige voorsitster van die tak, het die rype ouderdom van 60 jaar bereik. Die dames het gesellig saam gekuier met heerlike verversings en ook sjerrie wat die wange behoorlik laat gloei het genuttig. Een van die tak se jong lede, Jacquelien van Niekerk, is ook verras met ‘n ooievaarstee wat op dieselfde dag vir haar gereël is. Sy het intussen ‘n babadogtertjie ryker geword en die dames is baie opgewonde oor die nuwe “lidjie”. Gedurende die vergadering is die kompetisie artikels, naamlik gebreide hangers, ryp tamatie en chilli konfyt en petite fours beoordeel. Met die plaaslike Landbouskou, vanaf 26 tot 28 Julie, was die tak lede ook betrokke by die VLU se stalletjie, wat handwerk, gebak en gebottel verkoop en ook ‘n tee tuin behartig het. Die volgende vergadering op 16 Augustus is by Echo Mountain Inn en word afgesluit met ‘n ontbyt.