Agricultural

Reptielredding – Bewusmaking van bedreigde spesies

LEPHALALE – Vir die meeste van ons is slange gevaarlike, grillerige gediertes waarvan ons graag wegbly. Daar is egter mense wat die belange van hierdie koudbloedige diere op die hart dra. Volgens Marius Jooste (jnr) van Reptielredding bestaan daar geweldig baie onkunde oor slange. In die Bosveld, soos in ander dele van die land is daar heelwat slange wat bedreig word. Marius was van kleins af allergies vir katte en honde en het daarom besluit om vir hom ‘n trotelslangetjie aan te skaf. Hy besit nou reeds 15 inheemse slange. Reptielredding is gestig om bewustheid onder mense te bevorder en bedreigde slange soos die luislang te beskerm. Giftige slange wat gered word, word gebruik om teengif te produseer vir slagoffers van slangpik. Reptielredding het reeds in 2007 meer as 17 slange gered en hervestig. Marius Koekemoer het reeds in 1982 begin. Hy besit ook die Waterberg Reptiel en Slangpark. Volgens Marius is dit veral die reptiel Groot Vyf wat die meeste vrees by mense inboesem en daarom ook die meeste doodgemaak word. Die gevaarlike Groot Vyf is die Mamba, Pofadder, Mosambiek spoegkobra, Egiptiese kobra en die Boomslang. Van hierdie vyf slange is die mamba die mees gevreesde slang, maar die pofadder is verantwoordelik vir die meeste ongevalle. Die mamba beskik oor neurotoksiese gif wat die senuweesisteem aantas. ‘n Slagoffer moet aanhoudend dopgehou word en mon-tot-mondasemhaling en hartmasering ontvang totdat die gif uitgewerk is. ‘n Groot mamba kan soveel as 100 mg gif met ‘n enkele pik inspuit. ‘n Dosis van 50 mg is reeds noodlottig vir ‘n mens. ‘n Pofadder beskik oor sitotoksiese gif wat die weefsel aantas. So ‘n pik kan binne ‘n dag of drie noodlottig wees. In alle gevalle moet ‘n dokter onmiddellik geraadpleeg word. Marius en Reptielredding opereer uit die Lephalale gebied en verwyder giftige en gevaarlike slange in die hele omgewing. Hy help graag met grillerige gevaarlike probleme. Marius Jooste kan gekontak word by 0828879315 of Marius Koekemoer by 0721746970.