Grafsteensangers gaan in Kônsirt
By die Grafsteensangers het elke silwer randjie ‘n donker wolk! Om In Kônsirt te gaan is nie sommer net ‘n hierjy-ding nie! In Kônsirt gaan is ‘n baie hoge affêre. Ou note en woorde moet weer opnuut gepoets word. Nuwe klanke moet afgestof en gepoleer word. Die groep spartel en spook om Die Weduwee uit haar moeilikheid te help. Smartsange, weenwysies en treurmares van toeka se dae is weer te hoor in hul skreeusnaakse nuwe vertoning. Hulle musiektalent is onlangs weer bevestig met ‘n SAMA-nominasie vir hul jongste CD: Tannie Met Die Rooi Rokkie. Met hierdie nuwe vertoning word van die veteraan regisseur, Carel Trichardt, se dienste gebruik gemaak om die familie en aanhangsels se verhoogpret – en vlymskerp satire – af te rond. Kom lag ‘n slag met musiekmanewales uit die hoogste rakke en laagste grafte. Die Grafsteensangers is binnekort by Aardklop te sien en het ‘n paar nuwe lede in hul groep. Dan is daar die baie staaltjies van die jare saam en dit wat al agter die gordyne plaasgevind het …