Bosveldfees vier mondigwording
LEPHALALE – Die Bosveldfees op Lephalale is vanjaar 21 jaar oud en hierdie mondigwording is met groot entoesiasme gevier. Vreugdevure het sommer hoog gebrand om die bibberweer te verjaag. Nie eens ‘n verrassende winterreëntjie kon die feesgangers se gees blus nie. Behalwe vir indrukwekkende landboutoerusting en lekker snuffelstalletjies, was daar oorgenoeg te doene vir groot en klein. Die fees het geduur vanaf Woensdag, 4 Julie tot Saterdagnag laat. Soos elke jaar is die fees afgeskop met die Bosveldbal waartydens die mooiste nooientjies in die Bosveld, en veel verder, meegeding het om die kroon van Mej Bosveld 2007. Die tema van die aand was heel gepas, ‘n 21ste verjaarsdagpartytjie. Die kompetisie is vanjaar hanteer deur Elrize Alberts, self ‘n voormalige Mej Bosveld en wenner van die Mej Tiener Wêreldkroon. Jeannie du Randt van Klerksdorp is aangewys as Mej Bosveld 2007, met Sunette de Villiers van Modimolle as eerste prinses en Thabazimbi se eie Panayota Galanakis as tweede prinses. Soos gewoonlik is ‘n groot gholftoernooi, die Maroela Ope, gehou, asook verskeie ander sportaktiwiteite soos bulletjierugby en mininetbal. Op Vrydagaand is ‘n reuse musiekkonsert in die biertuin aangebied met ondermeer Bok van Blerk, Pieter Smit en Broers agter die mikrofoon. Saterdagaand het Brümmer die manne in die biertuin warm gesing. ‘n Potjiekoskompetisie, hondeskou en beesskou is ook aangebied. Die kampioen van kampioene in die hondeskou was vanjaar ‘n Goue Labrador genaamd Max van Stephanie Eckard. In die tweede plek was ‘n Engelse Fox Terrier van Fransoné Pretorius genaamd, Chicatita en Debbie Stemmet se Micky, ‘n opregte brak, in die derde plek. Saterdagoggend het die manne met die groot masjiene beslis wie die 4×4 kampioen was. In die afdeling vir kort aste het Jaco Steyn van Pretoria gewen. Die kampioen van die lang aste was Japie Strauss van Botswana. In die afdeling vir standaard voertuie het Herman Rowles van Botswana as wenner uit die stryd getree. ‘n Wildveiling is ten spyte van die jagseisoen deur Kgosi Game Brokers aangebied met Corné du Plessis as afslaer. Verskeie wildsoorte is te koop aangebied en is per katalogus asook uit hokke opgeveil. KGB het vanjaar saamgewerk met Dries Prinsloo van Molati Wilddienste. Die seniorburgers is onthaal met ‘n heerlike ete en vermaak deur onder andere kleuterskooloptredes, kunstenaars en die Mej Bosveldskoonhede. Volgens mnr Johan Erasmus, die Feeskomitee se reklameman en voorsitter van die Lephalale Gemeenskapstoerisme vereniging, was die Fees ‘n witwarm sukses. Sy stalletjie, in samewerking met die Ellisras Wildstudiegroep en die Waterberg Reptiel Park, was een van die pryswenners.