General

Vuurwapenwet moet aanpas vir 18-jariges

“Die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Vuurwapenwet) sal nou gewysig moet word om 18-jariges, wat nou as mondig geag word, toe te laat om vuurwapens te besit. Tans bepaal die Vuurwapenwet dat slegs persone wat 21 jaar of ouer is, mag aansoek doen vir ‘n bevoegdheidsertifikaat om ‘n vuurwapen te besit. Dit is ondenkbaar dat ‘n persoon wat mondig is, kontrakte kan sluit, self huwelike kan aangaan, maar nie as verantwoordelik genoeg beskou word om ‘n vuurwapen te mag besit nie”, sê mnr Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Veiligheid en Sekuriteit vir die Vryheidsfront Plus. “Dit is eintlik ironies dat toe die Wetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens (B34 van 2000) die eerste keer in die Parlement ingedien is, dit voorsiening gemaak het dat 18-jariges kan aansoek doen vir ‘n bevoegdheidsertifikaat om ‘n vuurwapen te kan besit. Die Portefeuljekomitee van Veiligheid en Sekuriteit van die Nasionale Vergadering het die bepaalde klousule verander en die ouderdom verhoog na 21 jaar. Van die argumente in die portefeuljekomitee was dat 18-jariges nie oor die nodige verantwoordelikheid beskik nie. Hierdie argumente verval nou en dieselfde komitee sal nou die Wet weer moet wysig”, het Groenewald gesê. Die Vryheidsfront Plus sal amptelik ‘n skrywe aan die voorsitter van die Portefeuljekomitee van Veiligheid en Sekuriteit in die Nasionale Vergadering rig, waarin versoek sal word dat die nodige wysiging in die Vuurwapenwet aangebring word.