Thabazimbi Landbou en Nywerheid Skou ‘07
THABAZIMBI – Dit is weer tyd vir die Thabazimbi Landbou- en Nywerheidskou. Na bykans ‘n jaar se vergaderings, telefoonoproepe, beplanning en hare uittrek is die skoukomittee nou in die pylvak met die einde in sig. Met baie positiewe terugvoer van uitstallers oor die nuwe uitleg en veranderings van verlede jaar, is daar besluit om dit as fondasie te gebruik en daarop voort te bou. Die basiese uitleg is feitlik dieselfde as in 2006. Die hoof verhoog is weer in die John van Deventer afdak, maar vanjaar aan die westelik kant van die afdak vanwaar al die sangers sal optree asook meeste van die prysuitdelings. Die pretpark bly in die driehoek reg by die ingangshek met ‘n paar nuwe stalletjies wat aangebring is direk langs die pretpark om aan die kinders se behoeftes te voorsien. Daar is ±80 klein stalletjies met nog om en by 30 groot industriële uitstallers wat insluit: kraggereedskap, brandbestryding, elektriese heinings, motors en bakkies, vragmotors, verskeie trekkeragente, plaasimplemente, bosbestryding en grondverskuiwing. Die skou word vanjaar vir oulaas en heel gepas ge-open deur Ds. Kalfie Loots wat op hierdie manier totsiens kan sê aan Thabazimbi en sy boeregemeenskap. Daar is dan ook besluit op ‘n aantal top kunstenaars soos John Edmond vir die ouer garde. Vir die jong klomp is daar Quentin Prinsloo, Poy, Willem Botha (Idols), Natasja Lee (Sokkie Bokkie) en Bobby van Jaarsveld. Hierdie bekende kunstenaars sal ondersteun word deur ‘n hele aantal plaaslike kunstenaars, o.a. Leoni en Nelri Benadé met haar sangstudente. Die biertuin is weer in die Trollope saal wat sy eie vermaaklikheidsprogram gaan aanbied met eie kunstenaars, groot skerm en verskeie kompetisies. Die biertuin sal vanaf Woensdag, 25 Julie, daagliks oop wees vanaf 10:00 tot vroeg. Die VLU takke van Makoppa, Northam en Thabazimbi gaan saam die gebruiklike Plaas Kombuis aanbied. Die dames kan gerus daar inloer vir interessante aanbiedings en kursusse terwyl manlief homself verwyl met die beeste en ander implemente. Daar word verwag dat vanjaar die grootste bees kompetisie nog sal wees met die Brahman afdeling alreeds die tweede grootste Brahmanskou in die land naas Pretoria Skou en die Simmentalers wat wil probeer om die Brahman die loef af te steek as die grootste stoetgroep op die skou. Daar sal ook ander rasse te sien wees met onder meer Simbra, Limousin, Santa Gertrudis, Bonsmara en nog een of twee ander rasse. Die perde-afdeling beloof ook om baie gewild te wees met feitlik twee volle dae se perdespring in die perde-arena. Peet van Breda en sy Kickboxing groep bied elke aand ‘n skopboks toernooi aan met Saterdag-aand die groot vol-kontak geveg. Hulle het aan almal die uitdaging gestel om hul fiksheid op die proef te stel met die Tae-Bo marathon Saterdag in die arena. Saans word daar lekker gekuier om die kampvuur in die vierkant voor die skoukantoor. Woensdag word almal uitgenooi om saam te kom kuier met ‘n bring-en-braai. Vanaf Donderdag sal daar braaipakkies te koop aangebied word op die terrein. Donderdag word al die groot uitstallers getrakteer met ‘n braaivleis om die kampvuur, bring gerus die hele familie en geniet ‘n vrolike kuieraand saam met die Skoukommittee. Vir enige navrae skakel die Skoukantoor gerus by 014 777 1204.