Sport

Limpopo kies spanne – Thabazimbi spelers maak hul merk

Jan Engelbrecht

THABAZIMBI – Heelwat van Thabazimbi se rugby spelers het Saterdag hulle merk gemaak in Limpopo rugby. Die eerste wedstryd was vriendskaplik tussen Limpopo O/23 met ‘n Blou Bul O/23 span waar die manne van Limpopo gewys het dat daar baie diepte in die Provinsie is. Limpopo O/23 het ‘n bietjie gesukkel om mekaar te vind in die eerste helfte, maar mens het die heeltyd die indruk gekry dat hulle nie sal verloor nie. Die Blou Bulle het eerste punte aangeteken en op ‘n stadium 10-0 voorgeloop, die manne van die Noorde het egter hulle voete gevind en met skitterende spel die manne van anderkant die Jukskei rivier van hulle voete afgespeel en uiteindelik die wedstryd met 29-15 gewen. Daar word beplan om vir die O/23 span heelwat wedstryde te reël die jaar, dit lyk of hulle voorwedstryde sal speel wanneer die Amateurspan sal speel. Die drie manne van Thaba, Joe Grobbelaar, Rory Cresswell en Borrie Bornman het baie goed gespeel en hulle merk gemaak. Joe wat kaptein was, is beseer in die wedstryd en mens sal moet wag en sien hoe hy vorentoe sal herstel. Die Limpopo Platteland span het vriend en vyand verras teen die hoog aangeskrewe Amateurspan deur spel van hoogstaande gehalte te lewer. Halftyd was die telling nog geen punte elk en uiteindelik het die Amateurspan gewen met 15-5, maar die keurders sal moet mooi kyk, want mens kan nie meer spelers net op hulle name kies nie. Die manne van Thaba wat in die Platteland span speel het, Jan Davel en Cobus Oosthuisen het gekook en gewys dat rugby in die platteland nog baie gesond is.