Halfjaar-verkope toon daling in algehele voertuigverkope
Die jongste syfers wat deur die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers (NAAMSA) en Associated Motor Holdings (AMH) aangekondig is, toon dat verkope van nuwe voertuie in Junie met 12,1% tot 54 061 eenhede teenoor die syfer vir Junie 2006 gedaal het. Passasiersvoertuigverkope het verlede maand met ’n aansienlike 19,1% tot 34 142 eenhede gedaal, en was ook 4,4% laer as die syfer vir Mei 2007. Volgens Brand Pretorius, voorsitter van McCarthy Motor Holdings, kan hierdie daling deels toegeskryf word aan die negatiewe impak deur die vyfde agtereenvolgende rentekoersverhoging wat onlangs deur die SA Reserwebank aangekondig is. “Verkope is ook erg deur onlangse prysverhogings van nuwe voertuie geraak, wat bykomende druk op voertuigbekostigbaarheid plaas,” het Pretorius gesê. Daarbenewens het die meeste voertuigkleinhandelaars aansienlik swakker goedkeuring van kredietaansoeke ervaar weens die instelling van die nuwe nasionale kredietwet wat in Junie in werking getree het. “Ons glo egter dat die meerderheid van die probleme met die inwerkingstelling van die nuwe kredietwet met betrekking tot korrekte dokumente, prosesse en kredietbeoordelingstelsels nou opgelos is, en die verwagting is dat die negatiewe verkopeneiging wat hom in Junie gevestig het, in Julie sal afplat,” het Pretorius gesê. “Dit is ook waarskynlik dat ons binnekort die positiewe impak van private bruikhuur wat nou toelaatbaar is, sal begin ervaar.” Bogenoemde faktore het ook ’n uitwerking op die mark vir ligte handelsvoertuie (LHV), en veral bakkies in die ontspanningsegment, soos bespeur kan word aan die daling van 9,8% in verkope tot net 16 555 eenhede teenoor Mei 2007, en 3,6% teenoor Junie verlede jaar.