Goeie rugbyspelers in Limpopo – nie almal vanaf Polokwane
Jan Engelbrecht
THABAZIMBI – Die Waterberg streek het hierdie week op Potgietersrus aan die Limpopo Sub Unie week deelgeneem en beide spanne die Senior en O/23 spanne het goed gevaar. Skielik het die afrigters van die Limpopo spanne besef dat al die goeie rugby spelers nie net van Pietersburg kom nie. Die O/23 span van Waterberg waar daar 9 van Thaba se spelers teenwoordig was het die subunie week gewen deur eers die sterk span van Sentraal met 34 punte teen 27 te wen en daarna die bulspan van Vhembe met 31 punte teen 3 kaf te draf. Spelers van Thaba wat uitgeblink het in die span was Borries Bornman, Rory Cresswell, Joe Grobbelaar en Jaques van der Merwe. Die senior span met 6 spelers van Thabazimbi het ‘n groot verassing gelewer toe hulle die bulspan van Vhembe met 49-43 gewen het en dan moet bygesê word dat die telling die span van Vhembe gevly het. Daarna het Waterberg teen die span van Sentraal, wat die wedstryd verlede jaar ook gewen het, te staan gekom. Waterberg het die wedstryd in die eerste helfte oorheers en dit het na ‘n uitgemaakte saak gelyk dat Waterberg die eerste keer in die geskiedenis van die reeks dit sou wen, maar die skeidsregter het ander planne gehad en ‘n stokkie daarvoor gesteek met van die vreemdste beslissings wat nog op ‘n rugbyveld waargeneem was. Waterberg seniors verloor die wedstryd 14-13. Die spelers van Thaba wat uitgeblink het was Jan Davel, Cobus Oosthuisen en Jaco Schlebush. Na die wedstryd is daar ‘n Limpopo O/23 span gekies waar drie van Thaba se spelers verteenwoordig was, Joe Grobbelaar (kaptein), Rory Cresswell en Borries Bornman. Daar was in totaal nege van Waterberg se spelers in die Limpopo O/23 span, wat Saterdag in ‘n vriendskaplike wedstryd teen ‘n Blou Bulle O/23 span gespeel het, gekies. Jan Engelbrecht die afrigter van Waterberg O/23 is ook as een van die afrigters van die Limpopo O/23 span aangewys. Na die Senior span se wedstryd teen Sentraal is daar ‘n Limpopo Platteland span aangewys wat Saterdag teen die Limpopo Amateurspan ‘n wedstryd gespeel het. Dit het ook as proewe gedien vir die span wat in Augustus na Rusland vertrek vir ‘n twee weke lange toer. Thaba spelers wat in die Platteland span gespeel het was Jan Davel, Cobus Oosthuisen en Jaco Schlebush. Dan het Kobus Baard in die Amateurspan gespeel.