Etha by Thaba skou
THABAZIMBI – Etha sal weer vanjaar te sien wees by die skou tydens die Baba en Kleuterkompetisie se prysuitdeling op Saterdag, 31 Julie, om 9:30, waar sy as gasvrou sal optree.
Etha, ‘n gebore Caledoner, het na haar studies aan die Strand besluit om ‘n loopbaan in die besigheidswêreld in Pretoria aan te pak. Die ouens daar het haar egter oortuig om te sing, en voor sy haar oë kon uitvee, het sy haar eerste CD by die KKNK in 2000 vrygestel.
Haar unieke stem en sangstyl het gou ‘n aanvraag ontwikkel, en in 2001 stel sy haar tweede CD, “Etha-Fire” bekend. Sy het ook onlangs haar derde CD vrygestel.
Agri-Expo, Suid-Afrika, het Etha op hulle lys as gekeurde kunstenaar vir landbouskoue. Sy was ook die enigste goedgekeurde sangeres om op te tree by die “Qutar-Summer Festival” in Doha, Arabië, in Julie 2003 waarby Suid-Afrika een van die 16 lande uitgemaak het.
Tans vorm sy ook deel van die “Maak ‘n Las” Reproduksiespan wat nasionaal optree by verskeie geleenthede, skoue, en feeste. Etha het ook al haar verskyning gemaak op die kassie in programme soos Kyknet se Fiesta, Belboks en Maak ‘n Las.
Etha hou daarvan om met mense te werk en pas graag aan by haar gehore se behoeftes. Sy sing ritmiese, kommersiële langarm dans musiek wat byval sal vind by enige tipe gehoor.