Tyd om te gaan vir leraar
THABAZIMBI – Ds FGJ Loots en gesin aanvaar op Sondag 22 Julie 2007 emeritaat. Dit beteken dat die predikant volgens die Kerkorde die ouderdom bereik het om af te tree. Ds Loots maak geen geheim daarvan nie dat hy baie graag voltyds in die bediening wil bly, maar dat die wette van die Kerk dit onmoontlik maak. In sy eie woorde het hy dus nou die stadium bereik om deel van die “scrap yard” te word. Hoewel ds Loots nie meer voltyds in die bediening sal wees nie, sal hy nog op gereelde basis beskikbaar wees om eredienste te lei, begrafnisse waar te neem, huwelike te voltrek, krisisse te hanteer en berading te doen. Die aanvaarding van emeritaat geskied om 11:00 tydens die erediens by die Hervormde Kerk. Programme waarop al die liedere verskyn wat gesing word, word by die erediens beskikbaar gestel. Melding word ook daarvan gemaak dat die erediens en alles wat daarmee verband hou, op video en klankapparate opgeneem word. Benewens die erediens self word groeteboodskappe deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, die Ring van Krokodilrivier, die Kerk en gemeenskap, skole en die gemeente gebring. Na afloop van die verrigtinge in die kerkgebou word die teenwoordiges genooi om ‘n ligte middagete by die kerksaal te geniet. Die Lootsgesin rig ‘n uitnodiging aan al die vriende van die verskillende kerke om die gebeure mee te maak. Die Lootse vestig hulle al 17 jaar in die Thabazimbi omgewing.