General

Rooivleisdag op Lephalale – Boere eerste op voedselketting

Elana Greyling

LEPHALALE – Die Ellisras Distrikslandbou Unie (DLU) het Vrydag, 22 Junie hul tweede landboudag by die Ellisras veilingskrale aangebied. Die dag is moontlik gemaak deur verskeie borge en uitstallers. Francois Smit van ABSA Landbou het die dag as hoofborg geopen. Gert Snyman, voorsitter van die DLU is baie tevrede met die opkoms van die dag. Die landboudag groei elke jaar en is ‘n geleentheid vir plaaslike boere om hul bulle en die se nageslag ten toon te stel. Joël Herholdt en Vlok Ferreira het speenkalwers op die hoef beoordeel as deel van die speenkalf- en slagoskompetisie. Verse is ook beoordeel. Alle diere, speenkalwers en aanteelverse, is aangebied vir veiling. Die beste drie slagosse is geslag en aan die hak beoordeel. Mnr Gerhard Schutte van die RPO het die stand van die rooivleisbedryf bespreek. Boere is nie net boere nie, maar voedselprodusente en moet daarom hulle rol in die voedselproduseringsketting ken ten volstaan. Die RPO se doel is om die produsent se plek in hierdie ketting te beskerm en te verseker, wat dieregesondheid en verbruikersake insluit. Dr Siegfried Meyer, die registrateur van diere-identifikasie van die Departement van Landbou was ook daar om met boere te gesels oor maniere om vee te merk. Ina Wilken het die kant van die verbruiker vir boere kom stel. Ina is die voorsitter van SA Nasionale Verbruikersunie. Marius Nel ‘n bekende ekonoom van ABSA het gesels oor risikobestuur vir die boer. Demonstrasies vir die manne het ingesluit trekkers, implemente en ‘n ontbostingsmasjien. Jannie Pretorius en ‘n groep goed opgeleide ruiters het ‘n indrukwekkende perdevertoning gelewer. Demonstrasies is ook gehou deur die Vroue Landbou Unie van Bosveldstreek. Daar was iets vir elke vrou se uiteenlopende talente en belangstellings, nl. ‘scrapbooking’ aangebied deur Katinka Heyns, maklike geskenkies deur Annemarie Els, mosaïekwerk deur Annelise Maritz, blomme vir jou onthaaltafel deur Ria Thuynsma en geheime van konfytkook en preservering deur Marieta Eckard. Die dag is afgesluit met ‘n heerlike kuier saam met Piet Barkhuizen en sy orkes.