General

Klop duur brandstof rekening

In ‘n persverklaring het die voorsitter van TLU SA Noord, Dries Joubert, gesê die maak van eko-vriendelike biodiesel is ‘n wenresep om ‘n duur brandstofrekening te klop – en uit te klop. Volgens hom gaan die verhoogde rentekoerse die landbou swaar tref. Verskeie rampe het die boere die afgelope paar maande getref. Windskade, haelskade, droogte en die verwoestende ryp plaas groot druk op die finansiële vermoë van boere. Onverantwoordelike loonverhogings wat op landbou afgedwing word, vererger die toestand. Dit is nie die eerste of laaste keer dat landbouers onder kortsigtige politici en die natuur se nukke moet deurloop nie, maar landbouers het nog altyd oorleef. Die oorpopulasie van mense op aarde is doodgewoon ‘n bewys van landbouers se sukses want sonder voedsel en vesel kan mense nie oorleef nie. Daarom is dit noodsaaklik dat land- bouers ander slim maniere moet vind om te doen waarvoor hulle geroepe is. Een so ‘n briljante idée is om biodiesel uit ou gebruikte plantaardige olies te maak. Die poging beskerm ook arm verbruikers wat gewoonlik die plantaardige olies aankoop wat nie meer vir menslike gebruik geskik is nie. Dit beskerm ook die omgewing omdat die olies nie in die waterafvoer sisteme beland nie en omdat minder besoedeling voorkom. Joubert het voorts gesê die minder as R3 per liter bio-brandstof verander jou dieseltenk in ‘n baie vriendelike bank. Met die aanhoudende verhoging in die prys van diesel, maak die projek ‘n groot bydrae om landbouers finansieel
gesond te hou. Die proses beskerm landbouers teen moontlike brandstoftekorte in die nabye toekoms. Gesien in die lig van die waarskuwing deur BP in ‘n persverklaring op 8 Junie. Volgens Joubert lê die geheim daarin dat landbouers op klein skaal, genoeg vir eie gebruik moet konsentreer. Miljoene rande se fabrieke en ingewikkelde ingenieursontwerpe is nie noodwendig toepaslik nie. Landbouers moet leer om meer en meer op hulself aangewese te wees. Afhanklikheid van die regeringsdienste is in ‘n doodloopstraat. Daar is verskeie uiters nuttige afvalprodukte wat herwin of gebruik kan word. Geslote sisteem reaktors maak dit moontlik om van die chemiese middels op te vang en weer te gebruik terwyl gliserien ‘n uiters gewilde afvalproduk is. Die gliserien is ‘n meester skoonmaakmiddel wat gebruik kan word vir enige item wat skoonmaak nodig het. Dit is ook sag op hande omdat die gliserien-inhoud so hoog is. Sommige biodiesel ‘vervaardigers’ maak alreeds seepprodukte en die skoongemaakte gliserien is hoog in aanvraag deur die kosmetiese mark. Die opwindende proses het heelwat moontlikhede vir die vestiging van ‘n sekondêre ekonomie. Die maak van seep, kerse en ander produkte kan waarde toevoeg tot die proses. TLU SA Noord se streekkantoor bied binnekort ‘n kursus oor die maak van biodiesel aan. Belangstellendes kan gerus skakel by 015-2973749 vir meer inligting.