General

Jong inwoner sterk aan na ongeluk

THABAZIMBI – Die jong inwoner van Thabazimbi, Jurgens van Biljon, wat Saterdagmiddag 2 Junie in ‘n motorongeluk net buite die dorp betrokke was, is steeds in die waakeenheid van Peglare hospitaal in Rustenburg. Volgens die mediese ondersoeke blyk dit dat Jurgens ‘n epileptiese aanval gehad het wat tot die ongeluk gelei het. Alhoewel dit net gelyk het asof hy ‘n harde hou teen die kop opgedoen het, het die nooddienste, wat gou op die toneel was, besef dat hy in ‘n koma was. Nadat hy by Curamed gestabiliseer is, is hy dieselfde aand na Rustenburg oorgeplaas. Buiten kneuswonde en minder ernstige frakture, het Jurgens longontsteking opgedoen en is hy tans aan die ventilator gekoppel. Volgens sy pa, mnr Pieter van Biljon, is hy reeds uit die koma maar word hy onder verdowing gehou om sy longe kans te gee om te genees. Soos sy toestand verbeter sal die verdowing ook verminder word.