Bosveldkarnaval vanjaar rooiwarm
SWARTWATER – Die Bosveldkarnaval op Swartwater is vir die afgelope paar jaar al ‘n witwarm pretdag vir die hele gesin. 23 Junie beloof om vanjaar ‘n volkleur Karnavaldag te wees met die bekende groep, NaviRedd wat die winterkoue gaan verdryf. Plaaslike talent kry ook ‘n geleentheid. Vir die eerste keer sal ‘n “Open Mic”-program dien as voorprogram vir NaviRedd. Dit bied geleentheid aan nuwe talent om voor ‘n gehoor hulle beste liedjies te kom sing. Die aspirant sterre kan hul eie “backtracks” bring, of kies uit die wye verskeidenheid wat beskikbaar sal wees. Bespreek ‘n 5 of 10 minute tydgleuf en kom wys wat in jou steek. Volgens Ds Gerhard Stolz kom almal wat al by die Bosveldkarnaval op Swartwater was, weer terug en weet, dis iets wat ’n mens nie mag misloop nie. Vanjaar gaan dit weer so wees. Buiten al die normale aktiwiteite, vermaak en stalletjies, bied die Bosveldkarnaval vanjaar ook ‘n paar nuwe items, soos ‘n boogskiet kompetisie. Die boogskiet kompetisie is ‘n pretskootkompetisie, maar daar kan goeie pryse gewen word, onder andere ‘n jaggeleentheid vir ‘n blouwildebees. Die ideale manier om die Bosveldkarnaval te geniet is om jou tent of karavaan te bring en sommer te kom uitkamp op die terrein. So word dit ‘n onvergeetlike naweek! Vir enige verdere inligting besoek die webwerf by www.bosveldkarnaval.co.za, of stuur ‘n e-pos aan koedoesrand@nhk.co.za, of skakel Gerhard by 0147671502.