Boskoskampioene wys hul staal
Vir die derde agtereenvolgende jaar het die Boskos Champs as wenners uitgetree na afloop van Die Kwêvoël Wildspotjiekoskompetisie wat Saterdag as deel van die Thabazimbi Expo aangebied is. Hulle ontvang ook die prys vir die beste nagereg. Volgens die beoordelaars was al die inskrywings van hoogstaande gehalte. Die beoordelaars, Reinhardt Hugo van die Vrystaat en die bekende sanger en liedjieskrywer, Wouter van de Venter, is vanjaar bygestaan deur die lieflike Christi Panagio, of beter bekend as Karien van 7de Laan, as hulpbeoordelaar.
Die tweedeprys het gegaan aan die ten volle vrouespan, die Wynspan onder aanvoering van Katinka wat na sewe jaar in Engeland weer terug is in die Bosveld. Gelukkig het sy in die tyd daar nie haar slag met ‘n pot verloor nie.
Die derde plek het aan die Aligatorspan gegaan en hulle wen ook die prys vir die oorspronklikste potjie met hul krokodilpot.
Die span van Swarrie het die beste potbrood voortgebring en Ernest het sommer ook die toekenning vir die moeilikste kalant ontvang. Die prys vir die beste voorgereg het aan die Waterbergspan van Shoprite gegaan.
Al die hoofpryse van ysterpotte ter waarde van sowat R4000 is deur Afgri Thabazimbi geborg. Die kleiner pryse is deur Johan Maree, wat sy eie potjiekostoebehore stalletjie by die Expo gehad het, geskenk. Johan kan gekontak word by 083 765 0284 indien u hom dalk misgeloop het.
Terwyl die kompetisie nog in volle swang was, het die tyd vir die Ready Steady Bush Cook Out ook aangebreek.
Twee spanne is uit die potjiekosdeelnemers getrek en op oop vure moes hulle hul slag met die geheime pakkies met hul snaakse bestanddele wys.
Nico Panagio, of te wel, George van 7de Laan, was saam met Piet Planter, wat saam met Nico mede verhoogaanbieder was, was die aanbieders van hierdie item. Hulle het elkeen ‘n span gehad wat hulle met raad en daad moed bystaan terwyl die mense saamgekoek het om te sien wat daar gebeur. Die span van die Aligators het baie meer vernuf getoon met die koedoeknaters en wildsfillet en het as wenners uit die stryd getree.
Hierdie item is ook deur Die Kwêvoël aangebied en is deur Pick ‘n Pay Thabazimbi geborg.