Sport

Gholfnuus

THABAZIMBI – Verlede Saterdag was dit die kampioen van kampioene-dag. Nadat die jonger manne die afgelope paar jaar die kroon gedra het, is dit een van die klub se senior-lede wat vanjaar koning kraai.
Die wenners was Bernie Gous (140), Philip Geldenhuys (144), Rikus de Wet (152) en Jaco Prinsloo (154). Alta Venter wen die gelukkige lede-trekking. Die opkoms was ongelukkig baie swak, veral na die vorige Saterdag se oorweldigende toeloop. Die klub het egter ook die belofte van ‘n groot borgskap vir volgende jaar gekry met die voorwaarde dat daar dan minstens 40 spelers moet speel. Die klub bedank dan ook voorlopig vir Pick ‘n Pay.
Die eerste liga byeenkoms van hierdie jaar is op Saterdag, 18 Februarie op Rooiberg waar die klub teen Mooinooi speel. Voornemende spelers moet asseblief hulle name op die lys skryf wat by die klub op is.
Vrydag, 24 Februarie is dit die eerste rondte van die Interaksie Gholf. Die manne moet asseblief so gou moontlik hulle spanne reg kry. Daar is tans die versoek dat hierdie toernooi na die eerste Vrydag van elke maand verskuif moet word. Laat weet hulle asseblief met die eerste byeenkoms op 24 Februarie oor jul gevoel hieromtrent.
‘n Groot leemte in die klub sedert sy ontstaan was die min of geen erkenning wat aan lede gegee is vir besondere toegewyde diens aan die klub. Die nuwe Konstitusie wat verlede jaar goedgekeur is en deur die GNGU as ‘n baie goeie en deeglike dokument gesien is, maak nou wel voorsiening vir sulke erkennings.
Lede kan nou ‘n persoon se naam met die nodige motifering aan die komitee voorlê vir ere lidmaatskap. Die komitee sal dit dan teen vooropgestelde kriteria meet en met die Algemene jaarvergadering ‘n aanbeveling maak.