Bekende Apteker verloor stryd
THABAZIMBI – ‘n Bekende apteker en inwoner van die dorp, mnr Hennie van der Merwe (64), het Sondag die stryd verloor teen ‘n hartprobleem waaraan hy reeds twee jaar gelei het.
Vrydag het oom Hennie ‘n hartaanval gehad en is in die Thabazimbi Hospitaal opgeneem waar hy behandel is. Sondagoggend het hy egter ‘n masiewe hartaanval gehad en is net na 08:00 die oggend oorlede.
Oom Hennie het reeds in 1969 vanaf Pretoria na Thabazimbi verhuis waar hy die eienaar van Thabazimbi Apteek was. In die vroëe 90’s het hy die apteek verkoop en afloswerk by verskeie apteke gedoen.
Vanaf 2000 tot 2004 was hy werksaam by die Paladium Apteek, Amandelbult. Tot en met sy dood het hy afloswerk by apteke in Thabazimbi, Setaria, Swartklip en Amandelbult gedoen.
Oom Hennie laat sy vrou Nellie, tannie Nellie se vier kinders, sy drie seuns uit ‘n vorige huwelik en 10 kleinkinders agter. Sy begrafnis vind vandag om 11:00 vanuit die APK Kerk, Thabazimbi plaas.