Sport

Gholfnuus

THABAZIMBI – Verlede Saterdag se bywoning was iets ongekends. Die klub is oorval deur 68 spelers op ‘n gewone klubdag, meer as wat hulle op die meeste borgdae kry. Die klub se normale reëlings was nie great vir so ‘n onverwagte aantal spelers nie en daar het enkele foute ingesluip – veral wat die dubbel besprekings van karretjies betref.
Die klub vra verskoning en begrip vir dit en sal hulle bes probeer om sulke foute nie weer te laat gebeur nie. Al die spelers wat gespeel het word ook bedank en die hoop is uitgespreek dat dié spelers Saterdag weer sal speel. Willem du Plessis en Koos Prinsloo wat hand bygesit het met die diens en ook die braaipakkies vir die aand gereël het, word ook bedank.
Die formaat was ‘n Vierbal Alliansie met die beste een telling oor die eerste ses putjies, die beste twee oor die tweede ses en die beste drie oor die derde ses putjies. Die wenners was Francois Steenekamp, James du Plessis, Jacques Payne en Philip Geldenhuys met 88 punte op ‘n uittel.
Tweede ook op 88 was dit Johan Smit, Shaun Payne, Arne Cilliers en Johan Koekemoer. Derde was Kobus Robertse, Steve van der Merwe, Freddie Senekal en B van de Groenekan met 87.
Die Eklektiek kompetisie is ook reeds aan die gang en na vier rondtes is Jakkie van der Wateren en Derek Torlage saam voor op ‘n bruto van 70. Daar is nog baie tyd en kanse om in te skryf en hulle verby te steek. Die been eindig eers einde Maart.
Saterdag is dit die Kampioen van Kampioene. Die kampioenskap gaan oor 36 putjies Slagspel. Spelers wat nie aan die Kampioenskap kan of wil deelneem nie kan die middag nog aan die gewone agtien-putjie Slagspel deelneem.
Die lys vir die spanne wat aan die Interaksie Gholf wil deelneem is ook reeds op die kennisgewingbord. Die eerste rondte is reeds Vrydag, 24 Februarie. Die voorlopige program vir Februarie as volg:
Saterdag 4 Februarie: Kampioen van Kampioene, 36 putjies Slagspel. Dinsdag 7 Februarie: Sages Intertak, Pretoria Wes; komitee vergadering. Saterdag 11 Februarie: Beterbal Stableford, pare sal getrek word. Donderdag 16 Februarie: Sages; Koro Creek (Nylstroom). Saterdag 18 Februarie: Bosveldliga op Rooiberg. Thabazimbi speel teen Mooinooi. Tuis Ind Stableford Kies eie vierbal. Vrydag 24 Februarie: Interaksie Gholf. Saterdag 25 Februarie: Indiwiduele Bonus Syferspel (Bogey). Elke Woensdag – Pick ‘n Pay Sundowner.