General

Vermeende verdagte gesoek

THABAZIMBI – Die polisie is opsoek na Dimakatjo Abel Khoza (24) wat ‘n vermeende verdagte is in ‘n huisbraak op 9 Januarie by mnr Peu se woning in Apiesdoring. Na wat berig word, het die verdagte die woning om 06:40 betree nadat mnr Peu reeds werk toe was.
Die eienaar se vriendin was egter nog in die huis en is deur die verdagte aangehou wat aangedring het op kontant. Hy het die huis deursoek en mnr Peu se vuurwapen, ‘n Taurus PT101 40 kaliber pistool, onder hul matras gevind. ‘n Saak van huisbraak en nalatige verlies van vuurwapen is geopen.
Na bewering het die verdagte dieselfde dag te voet gevlug en ‘n vragmotorbestuurder 19km buite die dorp op die Thabazimbi/Ellisras pad geskiet. Die vragmotorbestuurder, ene mnr de Villiers, het van die pad getrek om na die vragmotor se bande om te sien.
Die verdagte het met die vragmotor se selfoon gevlug.
Die erg gewonde mnr de Villiers is deur ‘n verbygaande motoris opgelaai en na die Thabazimbi hospitaal gehaas. Hy is intussen oorgeplaas na ‘n kliniek waar hy weer moet leer loop. Mnr de Villiers is afkomstig van Potchefstroom.
Volgens die polisie het die verdagte weer op 10 Januarie toegeslaan nadat hy die eienaar van ‘n Tuck Shop met ‘n pistool aangehou en van ongeveer R350 beroof het. Hy het ook by huis 1363, Regorogile, ingebreek en klere en skoene geroof.
Die polisie ondersoek twee sake van huisbraak en diefstal, twee van gewapende roof, verkragting en poging tot moord teen die verdagte. Daar is ook intussen ‘n Lasbrief vir arrestasie teenoor die verdagte uitgereik nadat hy versuim het om in die hof te verskyn op die aanklag van verkragting.
Enigiemand met inligting kan die polisie kontak by (014) 777 3500 of inspekteur Gideon du Bruyn by 083 390 9154.