Verdagtes in polisiemoord ontsnap
THABAZIMBI – Die twee verdagtes, Bongoni Joef Mobena (24) en Edward Morula Kgareng (24) wat by die Bela-Bela (Warmbad) polisiestasie aangehou word op die beweerde moord van sersant BJ Sedimo (38), het Sondag uit dié selle ontsnap.
Na bewering is ‘n verdagte Sondag by Bela-Bela selle toegesluit en het ‘n polisiebeampte versuim om hom te deursoek. Dié verdagte het ‘n ystersaag, twee ysterlemme, ‘n “sidecutter” en ‘n mes by hom gehad. Die selle se rame is gesaag en vyf verdagtes het ontsnap.
Buiten die twee verdagtes wat in aanhouding was vir die moord op sersant Sedimo, was die ander in aanhouding vir ondermeer moord, verkragting en verskeie ander misdade.
‘n Taakspan wat bestaan uit twee speurders van Thabazimbi, sersant Ponie en inspekteur Nattie Groenewald, twee speurders van Bela-Bela en ses speurders van Moord en Roof, Nylstroom, het Maandag vertrek om die ontsnaptes op te spoor.
Na wat berig word is Bongoni Joef Mobena (24), wat volgens die polisie die sneller getrek het op die moord van sersant Sedimo, Woensdagoggend om 06:30 gearresteer.
Die arrestasie het gevolg nadat die taakspan inligting van die Wintersveld gemeenskap ontvang het oor waar die verdagte hom bevind. Om ongeveer 07:30 dieselfde oggend is die tweede verdagte, Edward Morula Kgareng (24), ook vasgetrek.
Buiten die klag van moord teen dié twee verdagtes, is ‘n saak van ontsnapping ook nou geopen. Die ander drie ontsnaptes is nog op vrye voet.