Provinsiale krieketspelers vaar goed
THABAZIMBI – Die O/12 Limpopo Provinsiale Krieketspan het gedurende die Desember skoolvakansie aan ‘n Nasionale Krieketweek te Klerksdorp deelgeneem. Ettiene Marais en Peter Balani van Laerskool Thabazimbi het hierdie span verteenwoordig.
In hul eerste wedstryd kom hul te staan teen Gauteng. Limpopo kwyt hul goed van hul taak en na verskeie onderbrekings weens reën het die wedstryd gelykop geëindig. Peter Balani teken 32 lopies aan in hierdie wedstryd en Ettiene Marais 38 – nie uit nie. Ettiene vaar ook goed met die bal en neem 3 paaltjies vir 16 lopies in 6 boulbeurte.
Die Limpopo span se tweede wedstryd was teen Noordwes waar Limpopo met 4 lopies verloor. Ettiene palm 3 paatjies vir 9 lopies in 5 boulbeurte in.
In hul laaste wedstryd teen Easterns (Kempton Park), Benoni, Boksburg streek), kolf Limpopo eerste en teken ‘n totaal van 285 vir 5 in hul toegelate 50 boulbeurte aan. Ettiene is die beste kolwer vir die dag en teken 73 lopies – nie uit nie – aan. Peter teken 32 lopies aan. Danksy die goeie boulwerk deur die Limpopo span, word Easterns beperk tot slegs 123 lopies.
Reghard Hefer, wat die O/13 Limpopo Provinsiale krieketspan te Pretoria verteenwoordig het, het ook baie goed gevaar. In hul eerste wedstryd teen die Noord Transvaal se Titans, teken Limpopo 72 lopies aan – almal uit. Die Titans behaal die telling met die verlies van 4 paaltjies. Met die boulwerk neem Reghard 1 paaltjie vir 21 lopies in 7 boulbeurte.
Met hul wedstryd teen die Oostelike Valke kolf Limpopo eerste en teken 147 lopies vir die verlies van 7 paaltjies aan. Reghard slaan tydens dié wedstryd ‘n 50 tal wat 5 viere ingesluit het. Dit was die enigste 50 tal wat die Limpopo span aangeteken het. Met die boulwerk neem reghard 3 paaltjies vir 25 lopies in 8 boulbeurte.
Hul laaste wedstryd teen Gauteng, teken Gauteng 154 lopies aan en Limpopo word uitgehaal vir 128 lopies. Reghard teken 38 lopies aan en neem 1 paaltjie vir 24 lopies in 7 boulbeurte.