Polisieman doodgeskiet in uitvoering van pligte
THABAZIMBI – ‘n Polisieman van die dorp, sersant BJ Sedimo (38), is op 31 Desember om ongeveer 04:00 die oggend doodgeskiet terwyl hy aan diens was. Sedimo was alleen in sy patrollievoertuig en het twee mans aangespreek wat op straat gedrink het.
Na bewering het die twee verdagtes op Sedimo losgebrand en is hy vier keer raak geskiet. Hy is op die toneel dood. Die verdagtes het toe die oorledene se vuurwapen afgeneem en op die vlug geslaan.
Die polisie, taakspan en speurders was gou op die toneel en is bygestaan deur die inwoners met beskrywings van die verdagtes. Die polisie het ook ‘n bloedspoor gekry wat nie aan die oorledene behoort het nie. Na wat berig word het een van die verdagtes homself in die hand gewond wat bygedra het tot hul opsporing .
Die twee vermeende moordenaars, Bongoni Joef Mobena (24) en Edward Morula Kgareng (24), is binne twee dae na die voorval deur die polisie vasgetrek op Winterveld naby Hammanskraal. Die moordwapen en Sedimo se dienspistool is in hul besit gevind.
‘n Klag van moord is teen beide verdagtes geopen en hulle het reeds in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding by die Warmbad polisieselle.
Sersant Sedimo is in 1993 aangestel as assistant-konstabel en het sy opleiding te Hammanskraal ondergaan waarna hy uitgeplaas is na Thabazimbi SAPD. In 2000 word hy bevorder tot sersant.
Sedimo sal by sy kollegas onthou word as saggeaard, behulpsaam en baie netjies op sy werk. Hy het altyd die vrede bewaar tussen kollegas en vriende en het veral ‘n sagte plekkie vir kinders gehad. Sedimo het vir die polisie sokker gespeel en het graag aan Marathonne deelgeneem.
Hy laat sy vrou, Alise Moatshe en twee kinders Elias Moatshe (6) en Kesentseng Moraka (1) agter.