Gholfnuus
THABAZIMBI – Saterdag se spel was Individuele Stableford. Daar is kaarte getrek om die spelers so ‘n bietjie te meng.
Dit was baie warm en bedompig en die ruveld is deesdae ‘n nagmerrie, maar ons gereelde gholfspelers se gees kan nie gedemp word nie. Philip Geldenhuys wen met 40 punte. Derek Torlage (35) en Bill Pring en Jakkie van der Wateren (33) het die ander goeie tellings ingehandig.
Die baan is tans in nog ‘n baie goeie toestand. Die baie reën het die las op die verouderde toerusting soveel groter gemaak en albei die trekkers loop net op genade. Ook die grassnyers wat oortyd werk se leeftyd is beperk. Nogtans slaag Eddie en sy span daarin om die baan in die puik kondisie te hou.
Die Eklektiek kompetisie is ook weer aan die gang. Die eerste been eindig op 31 Maart. Die klub se spelers moet maar asseblief ‘n poging aanwend om deel te neem. Hoe meer kere jy speel, hoe beter is jou kans.
Die verskillende groepe wat vanjaar aan die Interaksie Gholf gaan deelneem moet asseblief so gou moontlik hulle spanne reg kry. Die klub gaan regtig probeer om hierdie kompetisie vanjaar weer nuwe lewe te gee.
Mike Nortje het as Komiteelid bedank weens werksdruk. Die klub is jammer om hom te verloor maar sê ook baie dankie vir die bydrae wat hy gelewer het en ook nog vir dit wat hy as gewone lid in die toekoms gaan lewer.
Een van die klub se lede, Thinus Pretoruis, is verlede week oorlede. Thinus was ook een van die klub se gewaardeerde Sages-lede. Weens sy ernstige siekte kon hy nie meer so gereeld speel as wat hy wou nie. Hy was egter bereid om met sy teenwoordigheid sy goeie gesindheid te toon. Die klub bid sy vrou Ansie en die gesin krag en sterkte toe en weet dat hulle die nodige troos van die Hemelse Vader sal kry.