General

Veldbrande by Marakele woed steeds

THABAZIMBI – Die veldbrande by Marakele Nasionale Park is op Maandag, 26 September in die Waterhoutboom seksie deur weerlig veroorsaak. Me Lulama Luti, Media bestuurder van Suid-Afrikaanse Nasionale Parke, sê hulle beraam dat tot 50% van die park reeds deur die brand geaffekteer is.
Luti het egter bevestig dat hoewel die brand steeds voortwoed, Marakele Nasionale Park dit onder beheer het aangesien daar voorsorg getref is om dit te stop. Sy het bygevoeg dat die meeste veld wat in die slag gebly het, suurveld is wat baie lae dier en wild digtheid bevat.
Die park se wild sensus groep het op 28 September die meeste van die gebrande areas gekontroleer en kon geen dooie diere of wild vind nie. Die afgelope Donderdag het Bradley Schroder, parkbestuurder van Marakele Park PTY (Ltd) en Tinus Smith, Marakele Nasionale Park Waarnemende bestuurder, oor sommige van die gebiede gevlieg. Hulle het ook geen beseerde of dooie diere gevind nie.
Volgens Luti is daar tans geen beskadigings aangebring nie. Sy sê dat die meeste van hierdie areas elke tweede jaar brand as gevolg van weerlig en is deel van die natuurlike proses.