HFM atlete by SA spele
THABAZIMBI – Die derde Suid-Afrikaanse spele is hierdie jaar gehou vanaf 24 tot 27 September by die ABSA stadion te Durban.
Vyf honderd sportmanne en meisies het die span van Limpopo verteenwoordig in elke individuele sport wat op skoolvlak aangebied word.
Uit 74 atlete wat gekies is, het twee HFM atlete die span gehaal naamlik, Corné Botha vir verspring en Louise de Kock vir 100m hekkies. Charles Henning is vir hamergooi gekies maar kon nie deelneem nie aangesien sy registrasie dokumente nie in orde was nie.
Corné ontvang ‘n brons medalje in die 0/16 verspring, waar hy derde geëindig het met ‘n afstand van 6.87m. Louise de Kock neem deel aan die 0/18 100m hekkies en eindig derde wat haar in die finale sewende plek plaas.
Uit die elf Provinsies met ongeveer 6000 sportkinders, het Limpopo 4de geëindig in die medalje resies met Gauteng as wenners.