General

Vermiste se oorskot hier gevind

ROOIBERG – Die vermiste me Shirley du Toit (39) se erg ontbinde lyk is verlede Sondag in ‘n vlak, vlakvarkgat by Nkwe Bush Lodge in die Rooiberg distrik, ongeveer 40 km buite Thabazimbi, gevind. Du Toit, van Johannesburg, is sedert 20 Augustus vermis en is laas lewend gesien toe sy in Fourways met haar wit Mazda 323 gery het.
Na wat berig word is du Toit se motor verlede week in King Williams Town in die Oos-Kaap met bloed in die bagasiebak gevind. Die fonds het gelei tot die arrestasie van twee verdagtes, mnre Wayne Nass (36) en Boyce Makya (47). Die verdagtes het reeds die afgelope Maandag in die Randburgse landdroshof verskyn op aanklag van moord.
Die oorledene het na bewering ‘n verhouding gehad met een van die verdagtes wat voorheen werksaam was by Nkwe Bush Lodge. Dié verdagte het Sondag die liggaam aan die polisie uitgewys. Hy het glo eers haar liggaam in die Johannesburg omgewing begrawe waarna hy haar oorskot ongeveer twee weke gelede weer opgegrawe en hier kom begrawe het.
Forensiese deskundiges sal die maaiers en larwes wat op die oorskot gevind is ontleed om die tyd van dood te bepaal. Die nadoodse-ondersoek sal ook die oorsaak van haar dood bepaal. Volgens die polisie kan ‘n derde arrestasie binnekort volg op ‘n persoon wat inligting van die polisie weerhou het.
Du Toit laat twee dogters van 10 en 13 jaar, agter. Sy was ongeveer drie jaar geskei en die dogters is sederdien in hul pa se toesig.