General

Steenbokpan VLU 4×4 Rally groot sukses

STEENBOKPAN – Die tweede 4×4 Rally wat die dames van Steenbokpan VLU op Saterdag, 24 September, aangebied het, het vanjaar vir nog meer pret gesorg. Die rooi gloed wat dou voor dag, oor die oewer van die Limpopo rivier gehang het, was nie dié van ‘n sonopkoms nie, maar die VLU lede in hul rooi T-hemde waar hulle besig was om vir ‘n dag vol pret en opwinding gereed te maak.  Soos verlede jaar, was die terrein vol kampeerders, 4×4 voertuie en motorfietse.
Eerste aan die beurt was die “Fun Run”.  Tydens dié 15km moes deelnemers aan verskeie aktiwiteite oor die baan versprei, deelneem.  Heelwat prettige en komiese situasies het hier ontstaan.  Van die aktiwiteite was;  mans wat moes brei, reuke moes uitken en daar is heelwat geproe.  Na voltooiing van hierdie baan het die deelnemers hul vraelys ingehandig, wat vol vrae oor die VLU en sy aktiwiteite was.  Uit die merk van die vraelyste is bewys dat die breë publiek wel deeglik weet waaroor die VLU handel. As in ag geneem word, dat geen VLU lid ‘n deelnemer was nie, is die 80% korrekte vrae ‘n goeie aanduiding dat die gemeenskappe wel goed kennis van die VLU as organisasie dra.
Na al die pret was dit tyd vir meer ernstige sake (wat ook maar vol pret was).  Die baan vir die harde baarde, alhoewel die hare op die tande was, is deur die Ellisras 4×4 klub beplan en uitgelê en was beslis nie vir die swakke van hart nie.  Bestuurders se 4×4 vernuf, en voertuie se krag, is deeglik getoets.
Vir die kinders was daar sommer baie lekker aktiwiteite. Behalwe vir die springkasteel, het Crafty Kids gesorg dat die kleintjies met oulike, selfgemaakte items, huistoe gaan. Bianca van der Merwe was die wenner van die inkleurkompetisie.  Die kinders kon ook hul eie gips yskasmagnete verf.
Die prysuitdeling was weereens die hoogtepunt van die dag, as die rugbywedstryd wat tussendeur uitgesaai is, nie getel word nie.
Die uitslae is as volg:
Gesinsbaan:
1ste Kumba Rescue – Noodhulpspan
2de Freek & Tanya de Klerk
3de Ewart & Lelanie de Klerk
Motorfietse
1ste Pieter Botha
2de Johan Bruwer
3de Stephan Grundlingh
Longwheel Modified
1ste Dawie  & Sarina Potgieter
2de Henk Faber & Jason Barcell
3de Freek & Tanya de Klerk
Longwheel Standard
1ste Corrie de Jager  & Ronel Holtzhausen
2de Thomas & Hanlie Pavier
3de Marcel de Villiers & Salome Steyn
Shortwheel Modified
1ste Hugo Truter & Bielie
2de Johan Pretorius & Ceasar Armstrong
3de Piet & Belinda Maherry
Shortwheel Standard
1ste Chris Eloff & Brand de Beer
2de Ennis Maherry & D v d Westhuizen
3 de  Tjaart v d Walt & Spanmaat
Die manne (en vroue!) het sommer baie lekker gekuier, ou vriende het mekaar weer na baie jare raakgeloop en baie nuwe vriende is gemaak. Vir die ongelukkiges wat die dag misgeloop het, is daar ‘n video en DVD van die dag se gebeure gemaak en kan by Elize Jordaan (014 7790960) bestel word. Steenbokpan VLU wil BAIE BAIE Dankie sê aan al die borge, sonder hulle is so dag net nie moontlik nie. Baie dankie ook aan Jorrie Jordaan en Francois Pretorius vir die baan uitleg en algemene reëlings.