Griekse Boertjie gaan bosveld laat vlam
THABAZIMBI – Yoti die Griekse Boertjie tree eersdaags in Thabazimbi op waar hy die bosveld aan die brand gaan sing. Bosveld Akademie bied die geleentheid aan op 7 Oktober om 19:00 wat ‘n Griekse ete met ‘n dans sal insluit.
Yoti is in Suid Afrika gebore maar sy ouers is oorspronklik van Cyprus afkomstig. Hy sien homself as ‘n Griekse boertjie en daarom bied hy sy vertonings in Afrikaans, Engels en Grieks aan.
Sy lied “Die wit Angelier”, ‘n eie komposisie, het vir drie weke lank die gesogte nommer een posisie op Afrikaanse Treffers behou. Yoti was al op menigte TV programme soos Belboks, Teletreffers, Goeie more Suid Afrika, Kraaines, Noot vir Noot en vele meer te sien.
Die gewilde sanger het al verskeie kere oorsee opgetree. In Griekeland het een van sy liedjies wat hy in die Internationale Musiekfees te Athene gesing het, weggestap met die toekennig vir beste Griekse komposisie buite daardie land. Hy was ook al vereer deur die ATKV vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek.
Yoti die Griekse Boertjie se vertonings hou gehore in vervoering met die Griekse ritmes en opwindende “Bouzouki”-klanke – moet ook nie sy “Zorba” dans misloop nie. Kaartjies beloop R80 per volwassene en hoërskoolkind en R40 per laerskoolkind. ‘n Kontantkroeg sal ook die aand beskikbaar wees.
Wees deel van hierdie opwindende vertoning en skakel Anita by (014) 772 2111 om voertydig plek te bespreek.