Bielie van die Bosveld Gholfnuus
THABAZIMBI – Die afgelope naweek was dit die Bielie van die Bosveld. Vrydag was dit ‘n sosiale beterbal van ‘n keuse bofhou af, net om die baan te bekyk en die senuwees in te stel. Saterdag en Sondag het die manne wat kan speel die wind getrotseer en uithaler gholf gespeel. Sestien van die spelers het van enkelsyfer voorgees gespeel.
Stephan Hatting van Mogol Gholfclub met ‘n voorgees van een, is na die twee dae as die Bielie van die Bosveld gekroon met ‘n bruto-telling van 144 (69 en 75). Die Niemand-tweeling, Jaco (76 en 77) en Pieter (78 en 75) se tellings van 153 elk was die naaswenners. Albei se voorgee is 0. Die beste netto-tellings was dié van Carel Payne (146), Wynand Lourens (147) en Johan Smit (148).
Die baan was in ‘n puik toestand en daarvoor moet alle eer gaan aan Eddie Williams en sy span. Irma Schlebush en haar span het gesorg dat die administrasie en voggehalte van die kroeg glad verloop het. Louis se deegverrassings het gesorg vir die eetgoed.
Vrydag, 30 September, is dit weer Interaksie Gholf. Dit gaan die laaste Vrydag-byeenkoms wees. Die finaal van die reeks Interaksie kompetisies is op Saterdag 29 Oktober.
Saterdag 1 Oktober is dit ‘n 4-Bal Beterbal en spelers kan hulle eie maats kies. Maandagaand is dit die maandelikse komitee vergadering. Saterdag 8 Oktober is dit die maandelikse Slagspel. Donderdag, 13 Oktober, speel die Sages op Potgietersrus. Laat weet Nico Human wie gaan speel.
Saterdag, 15 Oktober, gaan moontlik ‘n Borgdag wees. Saterdag, 22 Oktober, is dit Liga op Brits. Dan is daar weer elke Woensdag nog die gereelde Pick ‘n Pay Sundowner.
Met al die bedrywighede moet die spelers asseblief onthou dat die Elektiek-kompetisie ook nog aan die gang is.