HFM hou modeparade
THABAZIMBI – Hoërskool Frikkie Meyer se Frikkies Netbal het die afgelope Dinsdagaand ‘n modeparade aangebied. Van die plaaslike besighede se klere is vertoon en daarna het die gehoor die voorreg gehad om ‘n modevertoning deur “Die Bulle van die Noorde” gade te slaan.
Dié bulle, bestaande uit die manlike onderwysspan van HFM, het kleredrag van die 50’s tot die millenium vertoon. Charlie Chapmann (Krisma Grové) het die ys gebreek en sy koddige stappie en kordate snorretjie, kenmerkend van die 50’s, het die gehoor laat skater.
Die 60’s was die “ducktail” era en Deon Azar het die gehoor gillende gehad met sy “brillcream”, stywe broekie, wit sokkies, “tattoo’s”, donker bril en sigaret agter die oor.
Die 70’s is gekenmerk deur die “hippies”, “tattoo’s” en “wilde” hare en ewe wilde musiek en Glen van Rooyen en sy “peacemakers” het verseker hierdie era laat herleef.
Die gewilde “crimpelene” saffari pak het die ouer garde vermaak en terugverlang na die dae van min stryk en baie dra. (Gelukkig vir die moderne vrou was dit deel van die toeka kleredrag!).
Glen van Rooyen het met sy “cool dude” uitrusting – met harmonieuse bypassende skoentjies – die tieners se guns gewen. Oud maar nog nie koud. Die moderne man is egter dié een wat sy rugby, bier en braaivleis geniet – soos Deon Azar en proefstudent, Lourens Prinsloo tereg verklaar het.
Die matriekafskeid rokke is ook vertoon en die nuuskieriges moet Die Kwêvoël Vroueblad van 14 Oktober nie misloop nie