Absa waarsku kredietkaart houers
Die bankgroep Absa het die afgelope Maandag ‘n waarskuwing aan alle kredietkaart houers uitgereik om op die uitkyk te wees vir ‘n nuwe slenter met kredietkaarte.
Absa verteenwoordiger, Japie Krige het gesê die slenter is ‘n variasie van die gevreesde Nigeriese 419 slenter. Daar is vermoed dat dieselfde sindikaat by die nuwe slenter betrokke is.
Bedrieërs skakel kredietkaart houers en wens hulle geluk met die wen van ‘n reis vir twee persone. Hulle vra dan jou persoonlike inligting asook die inligting van jou afhanklikes en kredietkaart nommers.
Sodra hulle die kredietkaart nommers en ander bankbesonderhede van ‘n persoon bekom het, koop hulle verskeie artikels deur die internet aan, wat dan teen die kredietkaart houer se rekening verreken word.
Krige kon nog nie bevestig hoeveel mense reeds slagoffers van hierdie slenter was nie. “By Absa was ons gelukkig aangesien ‘n paar van ons kliënte hul inligting vir die bedrieërs gegee het, maar
agterdogtig was en die bank ingelig het. Ons het dan hul rekeninge gesluit voordat enige bedrog gepleeg is.”
Krige het die publiek gemaan om versigtig te wees vir mense wat onverwags skakel oor iets wat hulle sou gewen het en navraag doen oor hul bankbesonderhede. Hy sê die publiek moet eers die wettigheid van so ‘n eis nagaan voordat enige persoonlike- of bank inligting uitgegee word.
Hy sê mense is naief en glo maklik stories wat kriminele hulle vertel. “Wees versigtig. Dink. Hoekom sal jou bank jou bankrekeningnommer en kredietkaartnommer vra? Hulle het dit dan.”