Thaba wen Waterberg Rugbykampioenskap Trofee
THABAZIMBI – Thaba se eerstespan het Saterdag die kersie op die koek geplaas na ‘n lang, harde seisoen om die Waterberg trofee te verower met hulle oorwinning oor Ellisras.
Dit was ‘n harde ongenaakbare maar skoon wedstryd. Thaba, wat swaar gekry het in die skrums, het die wedstryd meer met hulle agterlyn gespeel en hier was Jaco Schlebush ‘n toring van krag. Mogol se agterlyn was toegelaat om onkant te speel anders was hulle nog dieper in die moeilikheid.
Piet Engelbrecht en Willem van der Nest het hulle harte uitgespeel tot op die einde. Evert van Zyl was weereens ‘n doring in die teenstaanders se vlees, wat ‘n impak het dié man nie hierdie jaar op Thaba rugby gehad nie. Sy slotmaat, Chris Griesel, het ook soos gewoonlik meer as sy pond vleis gegee.
Die span was erg ontwrig voor, toe die vasskop, Jannie Lotter, van die veld is met ‘n besering. Deon Schlebush het op vasskop ingestaan en ‘n baie goeie werk gedoen.
Thaba het die wedstryd 15-5 gewen. Puntemakers aan Thaba se kant was met drieë Jaco Schlebush en Nico Greeff. Jaco slaag ook met ‘n straf en doelskop.
Thabazimbi het twee trofeë verower naamlik die Ampie le Roux trofee vir die wenner van die eerste rondte en die Boet Fick trofee vir die wenners van Waterberg.
As dié span bymekaar kan bly volgende jaar, sal hulle weer moeilik geklop word en nog sterker wees, want die meeste van die spelers het nie verlede jaar in die span gespeel nie.
Die tweedespan het met ‘n agterstand van 10-3 teruggeveg tot hulle 15-10 voorgeloop het ongeveer 10 minute voor die einde van die wedstryd. Thaba se ligter pak voorspelers het hard gewerk en die man wat ‘n reuse wedstyd gehad het was die flank Conrad Deneysen.
Een van Thaba se spelers is van die veld gestuur en binne vyf minute kon hulle skielik nie al die gate toestop nie en Ellisras se tweedespan wen die wedstryd met 22-15.
Dit is weereens ‘n bewys dat mens nie ‘n wedstryd met 14 spelers kan speel nie. Dit was onnodig dat Thaba se tweede span verloor het, want hulle was die beste tweedespan in die streek die hele seisoen. Wat Thaba wel geleer het uit die wedstryd is dat hulle wel die spelers het en volgende jaar weer ‘n krag sal wees in die Waterberg.
Die puntemakers was met drieë JP Walker en Conrad Deneysen. JP slaag ook met ‘n straf- en doelskop.
Die afrigter, Jan Engelbrecht sê dat dit ‘n voorreg was om die klub se spanne af te rig en gee hy ook ‘n pluimpie aan die huidige bestuur van Thabazimbi Rugbyklub. Volgens hom was dit die beste bestuur waarmee hy nog saamgewerk het in sy tyd by Thabazimbi rugbyklub.
Hy bedank ook die spelers, die bestuur en die borge, veral Amandelbult Myn waarsonder hy nie sy taak behoorlik sou kon verrig het nie.