Shoprite boerewors koning more gekroon

Die nege provinsiale finaliste van die Shoprite/Checkers Championship Boerewors kompetisie, gaan more mekaar die stryd aansê om die titel as die land se bobaas-boereworsmaker. Die uitdunrondte vind plaas by Sun City se Valley of the Waves.
Die beoordeelaars van die streeksuitdunne was dit eens – vanjaar se resepte was “uit die boonste gestoeltes”, wat hul taak om die wenner te bepaal baie moeilik gemaak het. Die streekwenners het op 27 Augustus in die provinsiale uitdunrondtes mekaar die stryd aangesê.
Die gewilde 7de Laan sterre gaan ook by die finale teenwoordig wees en die vete tussen Hilda en Matrone duur voort. Albei is verlede jaar gediskwalifiseer aangesien hulle verneuk het.
Hilda het verlede jaar verklap dat sy draad deur haar wors ryg om dit reguit te hou – ongelukkig vir haar is dit teen die kompetisiereëls. Hulle is egter vasberade om vanjaar te bewys watter een se boerewors nou eintlik die beste is.
Die wenner, wat as Suid-Afrika se topboereworsmaker gekroon gaan word, wen ‘n splinternuwe Toyota Hilux 4.0 V6 dubbel kajuit 4×4 Raider ter waarde van R305 000. Die wenner stap ook weg met ‘n Weber Summit vlekvryestaal gasbraaier ter waarde van R26 000.
Die wenresep sal vanaf 21 September regoor Suid-Afrika in alle Shoprite, Checkers en Checkers Hyper-winkels se Vleismarkte beskikbaar wees. Die supermarkgroep se Championship Boerewors is in ‘n dik en dun opsie beskikbaar.
Hou Die Kwêvoël volgende week dop en ontmoet die Shoprite boerewors koning – en vind uit watter onheil Hilda en Matrone weer aangevang het.