General

Werkswinkel oor watergebruik

Die TLU-SA Noordstreek het na afloop van die “Regional Consultative Workshop on Water Allocation” te Pietersburg gesê dat daar niks nuuts tydens die werkswinkel gesê is nie.
Die ondervoorsitter van TLU-SA, mnr Francois du Toit, wat die werkswinkel bygewoon het, het gesê dat die deelnemers erken het dat die Limpopo ‘n water skaars gebied is en dat daar te min gedoen word om mense aan te moedig om water te spaar. “Dit is ook duidelik dat water toekenning aan grond herverdeling gekoppel word”.
TLU-SA se standpunt is dat indien waterregte van bestaande boere weggeneem word, word nuwe maatskaplike probleme geskep met die agteruitgang van plattelandse samelewings. Wegneem van water toekennings mag lei tot die vernietiging van water as bron omdat dit oorbenut kan word.
Die bewaring van die opvang gebiede is ‘n groot probleem. Verlies van plantegroei en die vernietiging van die ekologie in die sponsgebiede gaan damme laat toeslik en dit lei tot blits vloede.
TLU-SA Noordstreek beveel aan dat grond benutters keerwalle maak om die afloop van water te beheer. Kontoere teen hellings is noodsaaklik om afloopwater te beheer. TLU-SA het aangedui dat dit noodsaaklik is dat die aanbring van erosie strukture en water beheer strukture tegnies korrek ontwerp en gebou moet word.
Besoedeling van water moet voorkom word. Besoedeling deur myne, onbeplande plakkerskampe en gholf landgoedere moet dringend ondersoek word. Streng maatreëls ten opsigte van riool en industriële afvloei moet gehandhaaf word.
Grond eienaars moet gereed maak vir verdere druk. Die nasionale minister se gewraakte opmerking ten opsigte van watergebruik wat in “wit mans se hande” is, behoort as die standpunt van die regering aanvaar te word.