Thabazimbi speel met albei spanne in finaal teen Ellisras
Jan Engelbrecht
THABAZIMBI – Vir die fynproewer van klubrugby is daar hierdie Saterdag op Thabazimbi net die regte ding wanneer albei die eerste- en tweedespanne van Thabazimbi en Mogol mekaar pak in die eindrondte van die Waterbergstreek.
Thabazimbi het Saterdag na die finaal deurgedring deur Nylstroom te klop. Die eerstespan van Thaba het ‘n reuse wedstryd gespeel en gewys hoekom hulle sover hierdie seisoen onoorwonne was toe hulle die “nuwe” span van Nylstroom met 5-0 geklop het. Wat Thaba se oorwinning nog soeter gemaak het is dat hulle byna die hele tweede helfte net met 14 spelers gespeel het omdat die een speler ongeveer vyf minute in die tweede helfte van die veld gestuur is. Daar was definitief ‘n groot toeloop van spelers na Nylstroom, want waar hulle skielik al die goeie spelers vandaan gekry het is ‘n goeie vraag. Thaba het egter by sy gewone spel gehou en die teenstaanders moes hulle keer ken as die manne van Thaba aan die hardloop gegaan het.
Eric Mdyogolo het ook die enigste punte van die wedstryd met ‘n drie in die hoekie aangeteken. Thaba was baie ongelukkig om nie nog punte laat in die tweede helfte aan te teken nie, toe hulle op die teenstaanders se doellyn geboer het. Thaba se skoppers het weereens nie hulle skopskoene aangehad nie en verskeie skoppe na die pale is verbrou. Die wedstryd het mens se senuwees tot aan die einde deeglik getoets. Dat Thaba ‘n klomp uiters begaafde spelers het is nie te betwyfel nie. ‘n Speler wat hierdie jaar baie goed ontwikkel het is Tertius Vorster. Hierdie jong man is by die diepkant ingegooi toe Skip Scheepers siek geword het en hy die toets met vlieënde vaandels geslaag het. Kobus Baard se besering laat ‘n groot leemte, want so ‘n kwaliteit speler skop mens nie agter elke bossie uit nie. Die twee slotte, Evert van Zyl en Chris Griesel, het hul man deeglik gestaan en soos gewoonlik baie meer as hulle deel gedoen. Thaba se agterlyn is baie gevaarlik en as hulle aan die hardloop raak dan is daar moeilikheid vir die teenstaanders.
Die tweedespan het self ‘n moeilike wedstryd teen Nylstroom se tweedes gehad maar op die einde redelik maklik met 37-15 gewen. Die veel ligter pak van Thaba het in die eerste helfte ‘n bietjie swaar gekry, maar halftyd kon die span darem met 15-10 voorloop. Na halftyd was daar net een span op die veld en Thaba se drie losvoorspelers het die pas aangegee en in hulle teenstaanders se gesigte geboer. Hulle het die teenstaanders nie veel beweegruimte gegee nie, Die haker, Tembani, het weereens ‘n reuse wedstryd gehad totdat hy laat in die tweede helfte beseer is. Die twee Riaan’s, Riaan Pretorius en Riaan Nel, is staatmakers wat net nie einde het nie en soos gewoonlik alles vir hulle span gegee het.
Agterlangs het die twee broers, JP en Darrel Walker, amok gemaak as hulle aan die hardloop gegaan het. Otto Pretorius het soos ‘n wafferse Naas Botha met ‘n skepdoel geslaag van die halflyn af.
Puntemakers aan Thaba se kant met drieë was Darrel Walker (3), asook Tembani Mrawusi en Hendrik Nortje. Puntemakers met doelskoppe was Rudi Grobler (1) en JP Walker (2). Otto Pretorius slaag met ‘n skepskop.
Saterdag speel die twee 0/23 spanne vanaf 14:00 op Thaba Park ‘n voorwedstryd.
Om 15:00 speel Thaba se tweedespan teen Mogol se tweedes met die hoofwedstryd om 16:00 wanneer die eerstespanne mekaar takel.
Kom ondersteun ons rugby en sien die room van die Waterberg meeding om die trofee vir die kampioene.