Dwaalboom Oesfees vir oud en jonk
DWAALBOOM – Die jaarlikse Dwaalboom Oesfees word vanjaar vanaf 9 tot 10 September aangebied. Die Oesfees sal soos vorige jare, weer op Laerskool Dwaalboom se terrein geskied.
Die toutrek kompetisie tussen die boere en PPC gaan Vrydag, 9 September groot belangstelling lok en die PPC manne beter die gym besoek aangesien die taai bosveld boere hulle ‘n ding of twee gaan wys. Die boer van die jaar word reeds Vrydag om 13:00 aangewys. Die Frikwensies en Willie Botha, Suid-Afrika se eie konsertinakoning, gaan besoekers dié dag vermaak.
‘n Sangkompetisie word Saterdag aangebied vir voor-, laer- en hoërskool leerlinge asook ‘n nuwe ope-afdeling vir alle volwassenes. Laerskool Van Wykskraal se gewilde trompoppies gaan ook dié dag ‘n vertoning lewer.
Die armdruk kompetisie gaan om 14:00 afskop met Willie Botha, Armand du Toit (SA ope kampioen) en Judy Jacobs (wêreld kampioen). Boere, kom daag hierdie manne uit en wen groot pryse.
Die alom bekende Mej, Mnr en Mev Dwaalboom, in hul formele aanddrag, gaan ook weer vanjaar vir groot opgewondenheid sorg. Die FeeDans gaan om 21:00 afskop met gaskunstenaars Willie Botha en Freddie Mong.
Die verskeidenheid vermaak sluit in ‘n teetuin, biertuin, eetgoed, fotografiese ateljee, uitstallings van lewende hawe, plaasimplimente, voertuie, klere, juwele, volstruisleerprodukte, speelgoed, tattoo’s en nog vele meer. Toegangsgelde beloop R10 per kind en R15 per hoërskoolleerling en volwassenes. Vir navrae kan Hannetjie gekontak word by (014) 778 0611.