Entertainment

Bosveld pretrit bars uit sy nate

VAALKOP – Laerskool Sanddrift het gesorg vir groot opwinding vir buitelug-entoesiaste, met die aanbieding van die Bosveld Rally pretrit by die Vaalkop dam. Groot manne, en vroue, het hul speelgoed uitgepak en afgestof om aan hierdie pretrit deel te neem.
Die Bosveld Rally is vir die agtste agtereenvolgende jaar deur Laerskool Sanddrift aangebied. Hierdie jaar was definitief ‘n hoogtepunt, aangesien dit ‘n groot aantal toeskouers en deelnemers gelok het en die Rally-organiseerders, Jaco Steenkamp en Annalien Kruger het dit eens dat die ouers, deelnemers en dagbesoekers se positiewe gesindheid ‘n rol hierin speel.
Daar was twee afdelings om van te kies. Die pypkarre en  4×4’s was saam in die eerste afdeling en die tweede afdeling het quads en motorfietse ingesluit. Laasgenoemde kon die baan aanpak van sowat 30km, wat strek oor verskeie aanliggende plase.
Die bane was puik en goed uitgelê. Beoordelaars moes omtrent bontstaan om alle deelnemers te kon akkommodeer. Meer as 100 voertuie, en 280 motorfietse het aan hierdie pretrit deelgeneem.
Die uitslae van die motorfiets-afdeling is as volg:
Groot quads – Herman Rolfes, klein quads – G van Vuuren, groot twee-wiel – Martin Kruger, klein twee-wiel – Wynand Delport en Kids-Race – Jean-Pierre van Zyl.
Mnr Gielie Fourie en Hendrik Voster was die wenners van die 4×4 afdeling.
Laerskool Sanddrift bedank hul borge wat donansies gemaak het en spesiale vermelding word gemaak van mnr Mauritz Oberholzer van Quad House, Polaris in Brits en Quad Fun in Thabazimbi wat die borg was vir die pretrit sowel as die Preditor 90 wat uitgeloot is. Mnr Norman Pingo van Brits was die gelukkig wenner van dié groot prys.
Ná die dag se uitputting het die meeste deelnemers en toeskouers hul moeë en songebrande lywe by Atlanta Ontspanningsoord kom neerlê vir ‘n welverdiende aandrus.
Atlanta Ontspanningsoord het ‘n 100% besettings syfer behaal met die Bosveld Rally-naweek. Atlanta se op-en-wakker personeel het Vrydagaand tot laat hot en haar gehardloop om besoekers in te boek, dié oord spog met ‘n vier-ster toerisme gradering en die diens wat gelewer is getuig dat dit welverdiend is.
Vir die natuurliefhebbers en kampeerders is dit ‘n besonderse ontvlugtings oord wat volop wild en natuurskoon aanbied en die luukse ablusieblokke sowel as ‘n onderdak verhitte swembad verskaf die noodsaaklike gerief vir ‘n tuiste weg-van-die-huis.
Daar is vele aktiwiteite op die oord wat insluit: wildbesigtigingsritte, ‘n sportkroeg wat ingerig is met ‘n veerpylbord, tafels vir tafeltennis, snoekertafels en grootskerm TV en dan is daar ook ‘n lieflike mini-gholfbaan en speelkamer vir kinders.
Vir besprekings of navrae kan hul gekontak word by (012) 277 2479.