Entertainment

Zak laat mark gons met Oe Na Na

Die Namakwalandse Klong met die gladde tong het die land behoorlik aan die praat na die afgelope KKNK. Zak van Niekerk is ‘n baie veelsydige kunstenaar wat gehore klokslag aan sy voete het wanneer hy met sy bekfluitjie, kitaar en eg Namakwalandse stem musiek maak. Elke vertoning is ‘n verrassing wat elke hoorder behoorlik betower en natuurlik ‘n traan of twee laat afvee van pure lekker lag.  Zak is gebore en getoë in Springbok en hierdie deel van die land lê Zak nog baie na aan die hart.
Oe Na Na, Zak se 5de CD het Zak-ondersteuners en die res van die mark behoorlik aan die gons. Oe Na Na beloof om alle verwagtinge te oortref. “Tommy Dippenaar” is skielik gehore se gunsteling en hierdie liedjie gaan nog baie gehoor word. Ander treffers op die album sluit in ” Dit is my plek ” , “Witpens Bo ” , Laaiplek ” , ” Gee my lyn ” , “Stanley en die Koei ” en vele meer .  Zak speel weereens bekfluit dat jou ore fluit. Van die bekfluittreffers sluit in “Zambesi ” , “The Lion sleeps tonight ” en “Bekfluit Settees ” . Zak se Oe Na Na album sluit ook ‘n bonusalbum in, So onthou ek Worsie Visser. Zak bring hulde aan ‘n groot ikoon in Suid-Afrikaanse musiek en sing nege van Worsie se bekendes met groot passie.  “Oe Na Na”, die titelsnit uit die pen van Ben Beukes, laat jou behoorlik oe-na-na voel!
Byt my, Zak se vierde CD en lekker-kuie-boeremusiek staan tans net duskant goue status. Hierdie cd bevat van lekker sokkiemusiek, waarin hy sy vaardigheid met die bekfluit demonstreer, tot lekker lag-liedjies oor liefdesteleurstellings wat hy self geskryf het.
Die titelsnit van Zak se CD, Byt my, byt jou behoorlik as jy die eerste keer daarna luister – hierdie was beslis een van 2004 se grootste treffers. Zak se vaardigheid met die bekfluitjie word tentoongestel in treffers soos, “Bosveldhotel”; “Red River Valley”; “Swingin’ Safari” en ‘n bekfluit-keurspel met “Umfaan” en “Mama Tembu’s Wedding”. En ‘n bonus “eerste”:  Op hierdie cd bied Zak ‘n bekfluit-les aan!
Zak se eerste CD, Bekfluit Boogie, het in 1999 die lig gesien en Springbok toe in 2000. Lekkerkry, Zak se derde CD wat in 2003 vrygestel is, en ook die naam van Zak se plaas, was een van 2003 se grootste treffers en het in September 2004 goue status bereik. Die titelsnit  “Lekkerkry”, het gehore se voete behoorlik laat jeuk.
Besprekings vir Manne-aande kan gedoen word by Madeleine 083 445 1042.  Zak toer die land vol, Hou gerus plakkate dop vir Zak se volgende optrede in jou kontrei.
Oe Na Na is gelaai met treffers en beslis die CD wat enige partytjie aan die gang sal kry. Hierdie CD is beslis ‘n moet in elke Suid Afrikaanse huis se CD-rak.