General

Limpopo damme leegste in die land

Die opgaardamme in Limpopo wat verlede jaar hierdie tyd nog 75% vol was, is nou die leegste in die land met ‘n gemiddelde inhoud van net 48%. Van die grootste damme in Limpopo wat baie leeg is, is die Tzaneendam met 16%, Rhenosterkop met 27%, Ebenezer met 23% en Middel-Letaba met 36%. Die Loskopdam het 68% in.
Die Wes-Kaap is steeds die beste daaraan toe nadat hul damme se inhoud die afgelope 30 dae met 15% gestyg het. Dié damme se inhoud het van 50% in Augustus verlede jaar toegeneem tot 66% verlede week, dit is volgens die jongste damverslag van die Departement van Waterwese en Bosbou. Die Clanwilliamdam is 100% vol, die Brandvleidam 54% en die Theewaterskloofdam 69%.
Ander provinsies wat beter daaraan toe is, is die Oos-Kaap met 69% teenoor verlede jaar se 63%, Gauteng se 52% teenoor verlede jaar se 45% en KwaZulu-Natal met 80% teenoor 72%.
Provinsies wat slegter af is, is Noordwes waar damvlakke nou op 64% staan teenoor verlede jaar se 78%, die Vrystaat se 65% teenoor 67%, Mpumalanga 66% teenoor 67 % en die Noord-Kaap met 94 % teenoor 96 % verlede jaar.
Die gemiddelde vlak van ál die opgaardamme in die land is sowat 66% teenoor 64% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Onder die land se grootste damme lê die Vaal- op 51% teenoor 44% verlede jaar dié tyd, Bloemhof- op 22% teenoor 30%, Gariep- op 65% teenoor 63%, Vanderkloof- op 67% teenoor 76% en Pongolapoortdam op 71% teenoor 69%.