Thabazimbi se rugbyspanne eindig bo aan punteleer
Jan Engelbrecht
THABAZIMBI – Thabazimbi het Vrydagaand op Thabapark seker gemaak dat albei spanne bo aan die punteleer eindig toe Thaba albei Warmbad spanne gewen het. Die oorwinnig was soet, stroopsoet want aan die begin van die jaar is Thabazimbi nie veel kans gegun om baie wedstryde te wen nie, wat nog boaan die punteleer te eindig.
Wat dit nog lekkerder maak is dat Thabazimbi se eerste span onoorwonne is die seisoen en die tweede span het net een wedstryd verloor.
Dit sal maar broekskeur gaan vir enige span wat Thaba se tweede span wil wen want die manne speel baie mooi rugby. Wen is so deel van hulle kultuur dat verloor nie lekker daar inpas nie. Thaba het van meet af die pap dik aangemaak en hulle teenstanders heeltemal van die veld afgespeel.
Van die spelers wat uitgesonder kan word is Tertius Vorster, ‘n jong man met ‘n baie belowende toekoms, hou maar daardie naam in die agterkop. Brian Mali het soos gewoonlik sy stempel op die wedstryd afgedruk. Riaan Nel en Riaan Pretorius sal in enige eerste span hulle plekke volstaan daarom gaan dit so goed met die tweede span. Conraad de Neysen en Hendrik Nortje het albei reuse wedstryde gehad en albei het ook twee keer agter die teenstanders se doellyn gaan kuier. Die kleinste mannetjie in die span, Reggie Zanendaba, speel elke week ‘n reuse wedstryd en Vrydag was nie ‘n uitsondering nie. Agterlangs moet die name van Rudi Grobler en JP Walker genoem word wat weereens die teenstanders laat bontstaan het. Otto Pretorius se ervaring bring baie kalmte in die span en hy gee ook goeie rigting.
Thabazimbi het die wedstryd 50-0 gewen. Puntemakers met drieë was Rudi Grobler (2), Hendrik Nortje (2), Conraad de Neysen (2), JPWalker en Reggie Zanendaba. Rudi slaag met vier doelskoppe en JP Walker met een.
Die eerste span het werk voor hulle gehad, want Warmbad was tweede op die punteleer en net drie punte agter Thaba. Sou Thaba die wedstryd verloor sou hulle na die tweede plek afskuif. Die feit dat Thabazimbi hierdie jaar onoorwonne was, het dit baie moeilik vir hulle teenstanders in die uitspeel wedstryde gemaak. Thaba het van meet af die pap sommer dik aangemaak en Warmbad kon nie al die gate toestop voordat Nico Greeff vir die eerste drie in die hoekie oorgeval het nie. Daarna was dit ‘n harde maar redelike eensydige wedstryd. Die twee voorrymanne, Jannie Lotter en Skip Scheepers, het nie hulle gelyke in die Waterberg nie en hulle teenstanders het deeglik daarvan kennis geneem toe die twee hulle geskrum het dat hulle kreun. Die twee flanke is as eenheid ‘n doring in die vlees van hulle teenstanders met Willem Van der Nest so ‘n halwe tree voor sy mede baljagter, Pieter Engelbrecht. Cobus Oosthuizen het na ‘n stadige begin die seisoen sy stem nou regtig begin dik maak en die drie maak dit vir hulle teenstanders baie onaangenaam op die rugbyveld. Die agterlyn is baie gevaarlik en wanneer hulle aan die hardloop gaan dan moet die teenstanders deeglik bontstaan.
Die skakelpaar Cobus Snyman en James Engelbrecht kombineer goed en gee baie rigting aan die agterlyn. Jaco Schlebush op senter gee ‘n nuwe dimensie aan die agterlyn en die snellers Nico en Deon Greeff met Eric Mdyogolo is baie gevaarlik met die bal in die hand. Thaba het die wedstryd 20-7 gewen,. As ‘n mens in ag neem dat die vier doelskoppe en ‘n strafskop nie oorgeskop is nie dan lyk die telling nie goed vir Warmbad nie. Puntemakers aan Thaba se kant met drieë was Nico Greeff, Piet Engelbrecht, Cobus Oosthuizen en Eric Mdyogolo.
‘n Semi-finaal en ‘n finaal sal gespeel word om die uiteindelike wenner in die Waterberg liga te kroon. Die semi-finaal vind op 27 Augustus op Swartklip se veld plaas en die finaal sal op 10 September op Thabazimbi se veld gespeel word.