General

Sakekamer kry bekende sprekers

THABAZIMBI – Die sakekamer het verlede Donderdagaand ‘n ope vergadering gehou waar bekende sprekers soos mnr Japie Steenkamp, AHI president, en mnr Kobus du Toit, Ontwikkelingsbank, sprekers was.
Gys van der Walt, sakekamer voorsitter het by dié geleentheid gesê dat die sakekamer, in samewerking met besigheidsmanne en vroue van die gemeenskap, beoog om alle negatiwiteit rondom Thabazimbi en die plaaslike munisipaliteit, uit te wis.
Mnr Japie Steenkamp het in sy toespraak gesê Suid-Afrika is besig met ‘n oorgangsproses. Hy het gesê oorgang is nie vir mense met sagte handjies, ligte voetjies en swak harte nie – en sukses word nie gewaarborg nie.
Steenkamp het gesê dat munisipaliteite ‘n groot fiasko is. Almal weet dat stadsrade veel te wense oorlaat, maar hy het bygevoeg dat dit ál stadsraad is wat Thabazimbi het. Steenkamp het inwoners en sakemanne van die dorp aangeraai om hande te vat met die regering en munisipaliteit sodat daar vorentoe gegaan kan word. “Vertrou hulle en wen hul vertroue sodat daar as ‘n span gewerk kan word”.
Oor die SEB-aangeleentheid het hy gesê dat dit nie gaan verdwyn nie en dat dit ‘n integrale deel van die regering se beleid is dat SEB toegepas moet word. Volgens Steenkamp, het die regering ‘n SEB-telkaart ontwikkel waaraan besighede punte toegeken sal word vir bemagtiging, en gaan die telkaart binnekort gepubliseer word.
Kobus du Toit het in sy praatjie gesê dat Thabazimbi ontplof het en dat daar stewige strukture nodig is om hierdie ontwikkelings effektief te beheer en uit te brei. Volgens du Toit is die munisipaliteit verlede week hard aangespreek oor wanbestuur en korrupsie. Die ontwikkelingsbank het pas R4.6 miljoen bewillig vir die uitbreiding van die rioolwerke aangesien die bestaande rioolplaas nie die huidige kapasiteit riool kan hanteer nie.
Die ontwikkelingsbank, in samewerking met Kumba, gaan die munisipaliteit steun met die infrastruktuur van die nuwe dorpsontwikkeling aangesien die munisipaliteit nie die struktuur finansieel alleen kan steun nie. “Die doel is om onderhoubare ekonomiese groei en ontwikkeling, asook onderhoubare werkstigting op die langtermyn in Thabazimbi te skep”, het du Toit gesê.
Die aand is afgesluit met ‘n gesellige braai en daar is met nuwe geesdrif beraadslaag om Thabazimbi as ‘n gemeenskap vorentoe te lei.