HFM rugby maak geskiedenis
THABAZIMBI – Hoërskool Frikkie Meyer se eerste rugbyspan het die afgelope naweek geskiedenis gemaak deur die eerste rugbyspan te word wat, in 44 jaar van HFM se bestaan, daarin kon slaag om deur te dring na die Beeldtrofee eindstryd.
In 2003 het dieselfde afrigters, Glen van Rooyen en Skobol Swanepoel, met hul destydse span tot in die halfeindstryd gevorder, maar 15-17 teen HTS Ligbron verloor.
Vanjaar se span het egter die bordjies verhang nadat hulle verlede naweek vir Hoërskool Standerton verslaan het met ‘n telling van 26-22. Die wedstryd teen dié sterbelaaide span was ‘n rugbyfees en die gedurige verandering van die telling ‘n sterk bewys daarvan.
Die rustydtelling was 14-10 in HFM se guns. Vyf minute voor die eindfluitjie geblaas het, was die telling 22-21 in Standerton se guns. HFM se span, met ‘n begeesterde HJ Swanepoel, het egter bewys dat fiksheid en die wil om te wen genoegsame eienskappe is en HJ druk die wendrie in die laaste snikke van die wedstryd.
Die span kom more, 20 Augustus teen Hoërskool Overkruin te staan in die finaal van die Beeldtrofee te Pretoria. Die wedstryd skop om 12:00 af op Overkruin se veld. HFM se hoof, onderwysers en leerders wens hierdie puik span alle sterkte toe en het die hoop uitgespreek dat elke rugbyliefhebber dié eindstryd sal bywoon.