Weghol oorwinnings vir Thaba rugby
Jan Engelbrecht
THABAZIMBI – Om deel van Thaba rugby te wees is ‘n voorrreg en die spelers is trots om daardie trui oor hulle koppe te trek. Dit kan mens aflei van die spel wat die twee spanne opgedis het Vrydagaand teen Swartklip.
Rugby in Thabazimbi is op die huidige stadium seker die gesondste ooit en dit is te danke aan ‘n baie goeie bestuur en spelers wat uiters toegewyd is aan die rugbyklub. Dit is maar net weereens ‘n bewys dat rugby ‘n spansport is op alle gebiede en dat wanneer almal gelukkig is dan loop dinge gewoonlik vlot.
Thabazimbi se tweedespan het Vrydagaand gewys dat hulle baie moeilik geklop gaan word in die liga en dit is ook die rede hoekom hulle losvoor in die liga is. Die span het soos ‘n goed geoliede masjien gewerk en daar was net nie keer aan die manne wanneer hulle aan die hardloop gegaan het nie. Thaba het Swartklip met 52-0 geklop.
Dit is moeilik om uitblinkers uit te sonder, maar mens moet die naam noem van die voorry Brian Mali en die haker Tembani wat net elke week soos helde vir die tweedespan speel, daar is net nie einde aan die twee nie. Dan het die nuwe aanwins, JP Walker, met ‘n groot knal sy debuut in die tweedespan gemaak en sommer met drie drieë afgeskop. Puntemakers aan Thaba se kant met drieë was JP Walker (3), Jaco Schlebush(2), Casper Pretorius, Reggie Zanendaba, Deon Schlebush, Ralp Kissack en Brian Mali. JP Walker slaag met een doelskop.
Thaba se eerstespan het amok gemaak en as die skoppers nie hulle skoene by die huis gelos het nie dan kon die telling lelik gelyk het vir Swartklip. Die spelers het hulle self geniet en op ‘n stadium byna na willekeer deur ‘n baie moedige Swartklip span gehardloop. Daar is nie baie spanne wat Vrydag teen Thaba staande sou bly nie, want Swartklip het gekom om rugby te speel, maar Thaba het hulle soos ‘n klein boetie behandel en maklik gewen met 59-0. Uitblinkers was daar baie. Jeremy Fernandes het ‘n welkome terugkeer tot die span gemaak met ‘n puik wedstryd, James Engelbrecht het ‘n stewige wedstryd op loskakel en later skrumskakel gespeel. Jannie Lotter en Cobus Oosthuizen het albei reuse wedstryde gespeel. Nico Greeff was weereens sy verwoestende self en het met drie drieë sy impak op die wedstryd gemaak.
Puntemakers met drieë was Jeremy Fernandes(2), Cobus Snyman(2), Nico Greeff(3), Rudi Grobler, James Engelbrecht, Ewert van Zyl en Cobus Oosthuizen. Cobus Snyman slaag met twee doelskoppe.