General

Top vrouelandbou-entrepreneur gesoek

Vroue op plase lewer dikwels ‘n deurslaggewende bydrae tot die welvaart van ‘n boerdery en die plaaslike gemeenskap.  Daarom het Sanlam, in samewerking met Landbouweekblad, besluit om ‘n kompetisie van stapel stuur om dié vroue te eer vir die rol wat hulle in die ontwikkeling van  boerderygemeenskappe speel. Nie net ten opsigte van hul eie boerdery nie, maar ook deur die bemagtiging van plaaswerkers.
Volgens Erna Wetzel van Sanlam Cobalt is die boeremark een van die kernfokuspunte van Sanlam Cobalt en is hierdie nuwe kompetisie in ooreenstemming met Sanlam se bemarkingstrategie en ander borgskappe  in hierdie mark. “Regoor Suid-Afrika is daar talle voorbeelde van vroue wat hul mans se boerdery ondersteun deur hul eie ondernemings te bedryf.  Baie van hierdie inisiatiewe groei vinnig tot ‘n besigheid in eie reg wat nie net plaaswerkers bemagtig nie, maar ook die ekonomie van die omgewing ‘n hupstoot gee.”
Die kompetisie strek van 5 Augustus 2005 tot 31 Januarie 2006. Maandelikse wenners word aangewys waaruit ‘n algehele wenner gekies sal word. Die wenprys is R50 000 en maandelikse wenners sal elk R2 000 kontant, sowel as ander pryse van meer as R2 000 ontvang.
Vir meer inligting, die inskrywingsvorm en kriteria, besoek www.sanlam.co.za (klik op Kompetisies) of skakel Erna Wetzel by 021-947-4506 of stuur ‘n e-pos aan haar by agri@sanlam.co.za.