Gholfnuus
THABAZIMBI – Daar was verlede Saterdag nie spel nie. Die langnaweek, die skou en die rugby het seker bygedra om ons gholfspelers elders besig te hou. Dinsdag, Vrouedag, het Alta Venter en die dames egter ‘n spesiale kompetisie gereël wat goed ondersteun is. Dit was ‘n Vierbal Alliansie met ‘n keuse bofhou. Die gedagte was dat daar ‘n dame in elke vierbal moes wees, maar ongelukkig was daar nie genoeg dames nie. Die wenners met 141 punte was Ettienne le Roux, Hans Human, Joel Manungwa en “Freda” Senekal. Tweede op 138 punte was Nico van der Westhuizen, Bokkie Bronkhorst, Johan Prinsloo en Marina van der Wateren. Piet Venter, Willem du Plessis, Chris Bronkhorst en Nika Bense met 136 punte was derde. Na die spel is daar gesellig gekuier om ons nuwe braaiplek.
Baie belangrik: Woensdag 17 Augustus is dit die Algemene Jaarvergadering. As u nie die middag kan speel nie, kom nogtans na die vergadering wat om en by 18:00 gaan begin. Dit gaan nie ‘n lang vergadering wees nie. Die aangepaste konstitusie moet net bekragtig word en die verslae van die Voorsitter en die Tesourier moet goedgekeur word. Dan is die verkiesing van ‘n bestuur ook belangrik. Daar is tot op datum nog geen besprekingspunte ontvang nie.
Saterdag 3 September gaan ons groot fees vier. Ons vier die Gholfklub se veertigjarig bestaan en almal, ja elke lid moet die dag op die baan wees. Bring ook al ons eks-lede saam en soveel moontlik nuwe spelers. Asseblief help ons om die dag ‘n onvergeetlike ervaring te maak.
Die jaarlikse ledegeld is ook nou betaalbaar. Indien u voor einde Augustus betaal, betaal u nog die bestaande bedrag. Na Augustus gaan daar ‘n verhoging van 5% wees. Indien u nog nie teen die einde van Oktober betaal het nie, gaan u naam en voorgee-kaart gekanselleer word en sal u weer die R300 aansluitfooi ook moet betaal. So, asseblief, of u nou al ‘n rekening gekry het of nie, dit bly maar die wet van Transvaal.