General

Dwelms in padblokkade gekonfiskeer

NORTHAM – Beslag is gelê op duisende rande se dwelms in ‘n padblokkade naby die Oppikoppi-fees digby Northam.
Na wat berig word, het die polisie sedert verlede Donderdag padblokkades beman en daar is op onder meer dagga en kokaïene beslag gelê. Volgens kaptein Johny Thiyo, polisiewoordvoerder van die Waterbergstreek, is 13 persone Donderdag en 14 persone Vrydag inhegtenis geneem weens die onwettige besit van dwelms.
Saterdag is ‘n verdere vyf persone vasgetrek en is ‘n man vir beweerde dronkbestuur inhegtenis geneem. Die meeste van hierdie persone het boetes betaal, maar sommiges het ‘n nag of wat in die selle deurgebring.
Verdere arrestasies is volgens die polisie verwag aangesien die padblokkades tot vroeg in die week voortgeduur het.