Entertainment

Aardklop gaan vanjaar klop

Die jaarlikse Aardklop kunstefees op Potchefstroom, beloof om vanjaar te klop met ‘n groot verskeidenheid premières wat aangebied gaan word. Dit is reeds die agtste jaar dat dié kunstefees plaasvind en open vanjaar op 27 September en duur tot 1 Oktober.
Imbumba/Samesyn bring die strorievertellers van destyds se Uit die Bloute weer saam. Gys de Villiers en Anna-Mart van der Merwe deel die verhoog met die Afrika Mamas, Jolette Odendaal, Jill Middelkop en die musiekregisseur Janine Neethling.
Van die “mooiste verhale in Afrikaans, Engels en Zoeloe” word gedramatiseer onder spelleiding van Jaci Smith, wat ook aan die stuur was van De Villiers se bekroonde Suig.
Boet (Ian Roberts), Swaer (Norman Anstey) en Mogae (Fats Bookholane) vat hul Radio Kalahari Orkes ‘n bietjie verder met Die Vloek van die Strandjutwolf, ‘n versameling komiese sketse en spookstories deur Harry Kalmer, wie se Meneer de Beer ook opgevoer word met Frank Opperman.
Kaartjies kan deur Computicket bespreek word. Verblyfbesprekings of vir algemene feesnavrae kan jy (018) 294 7508 (in werktyd) skakel of stuur e-pos na verblyf@aarklop.co.za.