General

Wildstropery vernietig veestapel

Die stroop van wild op plase deur nagtelike jagtogte en die stel van draadstrikke, bedreig nou ook die veestapel en gevolglik ook die lewensvatbaarheid van boerdery, het mnr Willie Lewies, Adjunk-president van TLU-SA gesê.
Hy het gereageer op die hofuitspraak in Dendron teen wildstropers. Gevalle word by TLU-SA aangemeld van vee wat in strikke gevang, beseer en in die veld opgesny word. Die stropery van groot en klein wild en vee is nie slegs uit armoede of hongersnood nie. Dit blyk dat die stroop van wild en vee ook moontlik gekoppel kan word aan die onwettige voorsiening van vleis aan verskeie afsetgebiede (onwettige slagters).
Dit volg dieselfde patroon as in ander lande waar veestapels so erg geknou is deur veediefstal en stropery dat dit nie weer herstel het nie. Die wild in nasionale parke en wildreservate word ook so bedreig.
Stropers word gewoonlik bygestaan deur gewapende hulp wat nie huiwer om te skiet indien hulle gekonfronteer word nie. “Die lewe van wild- en veeboere is in ‘n gevaarlike en onbeskermde posisie. Indien die SAPD nie behoorlik bemagtig word om veediefstal na behore te kan aanspreek nie, sal die kommersiële boere self prosedures in plek moet stel om hierdie bedreiging aan te spreek. Ons kan nie toelaat dat die bates van landbou deur hierdie roekelose misdadigers tot niet gemaak word nie” het Lewies gesê.