Wees uilvriendelik
THABAZIMBI – Met die geweldige toename in ontbossing hier in die bosveld en langs die krokodilrivier, is die resultaat nou ‘n muisplaag. Die mens versteur die ekosisteem deur muise se natuurlike vyande, onder andere roofvoëls, te ontneem van hul natuurlike habitat.
Weens die doeltreffendheid van uilhuise, word daar ‘n beroep op elke natuurliefhebber gedoen om die oprigting daarvan te ondersoek. Die huisies is gemiddeld 2.5- tot 3.5 meter hoog b
o die grond op ‘n paal wat sowat 1 meter diep in die grond geplant is.
Uilhuise moet die regte grootte wees. Hulle hou van donker en hulle wil ‘n kleinerige ingang van 125mm x 125mm hê om deur te beweeg. Die hok moet ook ‘n deur hê waardeur dit tweejaarliks skoongemaak kan word en moontlike byneste verwyder kan word.
Die Suid-Afrikaanse klimaat is baie warm en daar moet dus ‘n dakopening of splete tussen die planke wees vir ventilasie. Die ideale uilhuisie is 750mm lank, 600mm hoog en 500mm breed. ‘n Lae plankie van 200mm voor af is nodig om te keer dat die kuikens uitval.
Daar moet ook ‘n klein landingstrokie of stoepie vooraan die huisie wees waarop die uile kan land. Doringdraad kan om die paal gedraai word om roofdiere en slange uit te hou. Hierdie strukture kan ook suksesvol in skure gebruik word sodat die uile nie werktuie en toerusting bemors en as gevolg daarvan verwyder of geskiet word nie.
Die strukture kan ook gebruik word om gerehabiliteerde uile in vry te laat. Navorsing het getoon dat 89% van uile se dieët uit nagmuise bestaan. Gee hierdie spesialiste die kans om jou onkostes aan gifstowwe te bespaar.
Belangstellendes kan Saterdag, 30 Julie om 10:00 ‘n roofvoëlgroep loodsvergadering by die inligtings grasdakkie by Thabapark bywoon. Vir meer inligting kan Wolf Buitendag gekontak word by (014) 772 3249 of Rynette Steenkamp by (014) 772 1598.